Toe Jaco Kotze ’n luislang van sowat 3.9 m op sy plaas buite Middelburg in Mpumalanga vang, het hy nooit gedink die dier sou sy enorme aandete uitspoeg nie.

Jaco, wat op die plaas Vaalfontein boer, vertel daar het al van sy rooibokke verdwyn. En nou het hy eindelik die skurk agter die verdwynings gevang.

Die oomblik toe Jaco die reuseslang vang, het dit ’n rooibok wat dit onlangs gevreet het, begin opbring. Gelukkig was daar ’n kamera byderhand om die ongewone oomblik af te neem.

In die video, wat die Middelburg Observer intussen op YouTube gedeel het, kan mens sien hoe die slang in die bosse probeer wegkruip. Sy pens staan knuppeldik van ’n maaltyd wat hy pas verorber het.

Wanneer Jaco die slang in die oopte sit, begin dit stadig sy rooibok-aandete opbring.

Lieflik.

Waarskuwing: Kru taal.