Die popprinses van die Afrikaanse musiekwêreld het Saterdagaand op Instagram ’n foto gedeel waar sy na haar groeiende “pensie” verwys.

“Ek en my pensie by The Black Swan-restaurant in Oudtshoorn. Sien julle by die show! Dankie vir ELKEEN se hulp en bystand in die #knysnafires. Ek is so jammer vir elkeen wat hierdeur gaan. #seekGodsFace,” lees die onderskrif by die foto waar sy voor ’n kaggel staan met ’n wintervuur wat gesellig knetter.

Die aktrise Christi Panagio het op haar inskrywing gereageer: “Oh my word. Dis ek ná ’n burger & chips! Watse magie?”

Karlien het geantwoord: “@christi.panagio Hahaha, ek belowe dit lyk net klein, hierdie magie groei nou baie lekker! #vettie.”

Haar aanhangers kon ook nie uitgepraat raak oor hoe mooi sy lyk nie.

Hoewel Karlien met haar swangerskap binnekort haar optredes stelselmatig gaan begin afskaal, toer sy tans nog die land vol met haar nuwe album, Sing vir Liefde, wat binne ’n maand goue status bereik het. 

Sy het vroeër vanjaar stil-stil ewige trou beloof aan die man van haar drome, Joe Breytenbach (33). 

Hulle het in Mei teruggekeer van hul wittebrood aan die Amalfi-kus in Italië. Van daar af het Karlien die blye nuus gedeel dat hul eersteling op pad is. 

Sy het onlangs aan Huisgenoot vertel dis in dié stadium nog te vroeg om te weet wat hul baba se geslag is. Sy en Joe wil ook die geboortedatum van hul eersteling privaat hou, maar Karlien het verklap dat hul kleinding “iewers aan die einde van die jaar” sy of haar opwagting behoort te maak. 

“Om ’n ma te wees is my gunsteling-, gunstelingrol in die wêreld,” het sy toe vir ons vertel. “Ek voel dikwels as sang nie ’n roeping in my lewe was nie, sou ek maklik net ’n ma kon wees.”

Karlien is reeds die ma van ’n tweeling, Eliah en Daniël (nou 3), uit haar huwelik met die voormalige Springboklosskakel Derick Hougaard.