Karen Zoid en Riana Nel se aanhangers het hulle al die pad van Dinsdagaand se episode van Republiek van Zoid Afrika op kykNET tot by iTunes gevolg, ná dié gewilde sangers kragte saam gesnoer het om Riana se treffer Timbuktu te sing.

Die vierde seisoen van Republiek van Zoid Afrika word tans uitgesaai en die ander gas wat Dinsdagaand in Karen se “republiek” gekuier het, was die kletskoningin Ruda Landman.

“Dit het byna vier seisoene gevat om vir Ruda en Riana in my sitkamer te kry,” vertel Karen.

“Ruda is ’n joernalistieke reus en ek is ’n groot aanhanger van haar, terwyl Riana se natuurlike musikale aanleg en vermoë vir my verbysterend is.

“Beide van hulle kom van klein dorpies en het die hoogste sport in hulle loopbane bereik – daarvoor het ek die grootste respek.”

Luister hier na Karen en Riana se weergawe van Timbuktu:

Die huidige reeks se musiektreffers sluit in What he Means, wat Karen saam met Ard Matthews gesing het en Leon Schuster se Boetebessie Briek Dans. Beide hierdie liedjies asook die albums van die vorige seisoene is ook in iTunes te koop.

Intussen is Karen is ook hierdie maand as beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (W.A.T.) aangestel. Sy het ook die woord Republiek gekoop en besit dit nou amptelik!

In volgende week se episode gesels Karen met haar laaste deelnemers van The Voice – Almur Marais van Stilfontein en Thembeka Mnguni van Durban.