Daardie band wat reeds tussen ma en ongebore baba vorm, is iets baie spesiaals – wat ene Sharde nie beskore is nie. Sy het gedink sy sou nooit aan haar eie lyf kon voel hoe haar kinders in haar groei nie.

Weens kankerbehandeling sou sy nooit self die wonderwerk van swangerskap ervaar nie. Maar met ’n oulike tegno-gordel gekoppel aan ’n surrogaat, ene Antoinette, wat vir Sharde en haar man ’n tweeling dra, kon sy hulle in haar eie buik voel skop. Dit danksy die babadoek-vervaardiger Huggies, wat die “bababelt” ontwikkel het.

Die video laat ’n mens na die snesies gryp:

Sharde het kanker oorleef en veg al die afgelope vyf jaar teen hierdie verwoestende siekte. In die video sê sy sy is baie dankbaar vir Antoinette, wat die tweelingdogters vir haar en haar man, Jake, dra. Maar sy hunker ook na die hele ervaring van swangerskap.

Verlede jaar is die Huggies Baby Belt aanvanklik vir pa’s ontwikkel sodat hulle hulself kan omgord om te voel hoe hul ongebore babas beweeg en skop.

Afgevaardigdes van Huggies reis nou die wêreld vol met die apparaat om dit met “gesinne met spesiale omstandighede” te deel.

“Ek het altyd gedink ek sou swanger raak en die skoppies, oggendnaarheid en kosdrange ervaar, maar dit het nooit gebeur nie,” vertel Sharde.

Sy het gevoel sy loop die ma-dogter-verbintenis mis wanneer die baba beweeg en skop – tot nou toe. Die bababelt is soos ’n wonderwerk vir Sharde, Jake en Antoinette, wat nou almal kan deel in die twee lewetjies wat voelbaar groei.

Bronne: popsugar.com, huffingtonpost.co.za, huggies.com.