’n Herrie het ontstaan toe ’n vrou “met niks aan nie” verlede Woensdag in die Menlyn Park-winkelsentrum in die ooste van Pretoria rondgeloop het.

Terwyl die vrou met net ’n toppie en stewels aan - en sonder enige broek of onderklere - deur die sentrum loop, het ontstoke klante hul selfone uitgehaal en video's en foto's begin neem.

Kort voor lank het een van dié video's op YouTube beland en soos ’n veldbrand versprei. Meer as 31 000 mense het reeds daarna gekyk sedert dit laas week opgelaai is.

In die video kan jy sien hoe die vrou vol selfvertroue deur die sentrum stap met ’n vroulike veiligheidswag langs haar. Talle mense loop rondom haar met hul selfone in hul hande. Een persoon probeer selfs sy foon onder die vrou se toppie indruk.

Die vrou steur haar ook skynbaar min aan al die aandag.

Marie Coetsee, assistent-bemarkingsbestuurder by die sentrum, het in ’n verklaring gesê die bestuur is bewus van die voorval op 22 Maart "waar ’n skare bymekaargekom het rondom ’n ongeklede vrou".

“ ’n Vroulike veiligheidswag het die vrou begelei na die naaste winkel waar sy klere kon koop, maar sy het geweier. Die sentrum se sekuriteit het die vrou toe uit die sentrum gelei,” sê Marie.

“Dié stappe is geneem om die veiligheid en gemoedsrus van al sentrum se klante te verseker en seker te maak ons sentrum bly ’n familie-omgewing.”