Min weet die klomp twee paar honger oë volg hul elke beweging vanuit nabygeleë dongas.

Twee leeus het besluit dis ’n geval van die berg wat na Mohammed kom, oftewel prooi wat binne hul reikafstand sal beweeg. Hulle lê toe geduldig in hul verskuilde posisies om op die regte oomblik toe te slaan.

Toe hul prooi hulle gewaar en laat spaander, is die twee ewe vinnig agterna.

Maar o wee! Dalk moes die twee eerder vooraf verkenningswerk gedoen het. Ongelukkig was die waterpoel heelwat dieper as wat die leeus verwag het. Terwyl die bokkies met ’n paar spronge kon wegkom van die gevaar, beland een van die leeus pens en pootjies in die waterpoel.

Wat ’n bedremmelde prentjie is dit nie. Al wat vir die een met die gekneusde (en sopnat) ego oorbly, is om die water ewe beteuterd af te skud en die meewarige uitdrukking op die ander onsuksesvolle jagter se gesig te probeer trotseer.