’n Lid van die paparazzi word vir geringe beserings behandel nadat Justin (23) hom laat Woensdagaand met sy monsterbakkie getref het.

Oukei, oukei . . . Dit is nie so dramaties as wat dit klink nie. Dit was immers ’n ongeluk en Biebs het die regte ding gedoen deur uit sy voertuig te klim en vir die slagoffer hulp aan te bied.

Volgens ’n artikel in die Daily Mail het Justin die fotograaf per ongeluk getref nadat hy by ’n diens van die Hillsong-kerkgroep in Los Angeles weggery het.

Te oordeel aan die foto’s is die 57-jarige fotograaf se been beseer. Paramedici het hom kort daarna op die toneel behandel terwyl Justin die heeltyd aan sy sy gebly het.

Justin is glo later van die toneel af weg in ’n 2017-model Aston Martin wat aan Kourtney Kardashian verhuur word. Sy het ook die diens bygewoon.

Dit is die tweede keer in die afgelope week dat Justin “jammer” moet sê.

Op Maandag het hy sy duisende aanhangers om verskoning gevra vir die kansellering van sy Purpose-toer.

“Ek is jammer vir enigeen wat teleurgesteld of verraai voel, dit was nie my bedoeling nie.”

Hy het gesê hy voel uitgebrand nadat hy die afgelope twee jaar wêreldwyd getoer het en dat hy daarna uitsien om “net te rus en te ontspan”.

Dit is nie die eerste voorval waarby Justin betrokke is terwyl hy bestuur nie. 

Wie kan van sy blaps in 2014 vergeet toe hy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is nadat hy in ’n gehuurde sportmotor aan ’n sleepren deelgeneem het?

Die Miami Beach-polisie het hom in ’n geel Lamborghini afgetrek voor die sanger hulle met f-woorde bestook het.

Bronne: Dailymail.co.uk, nydailynews.com