Die Paarl-landdroshof het Donderdag gehoor die vermoorde Nicola Pienaar was wel swanger toe sy vermoor is. Die staat beweer voorts haar moord was vooraf beplan.

Nicola is laas op 5 Januarie lewend gesien.

In ’n eksklusiewe onderhoud Woensdag met Huisgenoot het ’n familielid aangedui hy was nie daarvan bewus dat Nicola swanger was nie.

Luidens opspraakwekkende berigte Woensdag was die vermoorde Nicola Pienaar (32) se maag oopgesny “asof sy ’n keisersnee gehad het”.

Huisgenoot het sedertdien betroubaar by een van Nicola se familielede verneem dit is nie waar nie. Uitslae van haar nadoodse ondersoek, wat Dinsdag reeds afgehandel is, wys sy is verwurg, maar daar was geen teken van eksterne wonde nie.

Nicola se emosionele ma, Marlaine Pienaar-Vice, het Donderdag vergeefs haar trane probeer terughou toe Jaco Oosthuizen verskyn. Hy word van Nicola se moord aangekla.

Polisiebeamptes en hofgangers het Marlaine voor Jaco se verskyning omhels.

Jaco (32) word aangekla van moord, motordiefstal, diefstal van ’n brandstofkaart en dat hy bedrog gepleeg het deur die petrolkaart te gebruik.

Die staatsaanklaer, Nathan Johnson, het gesê nog klagte kan moontlik teen Jaco aanhangig gemaak word. Hy het ook bevestig Nicola was wel swanger.

Volgens Nathan het Jaco drie verskillende name gebruik. Hy het hom ook as ’n vlugrisiko beskryf en gesê die staat sal borgtog teenstaan.

Volgens Jaco se regshulp-prokureur gaan hy nie vir borgtog aansoek doen nie. Die saak is tot 17 Maart uitgestel.

Jaco het glo die polisie Sondag na sy ouerhuis in die Paarl geneem waar Nicola se lyk onder rommel begrawe is.

[caption id="attachment_156437" align="aligncenter" width="600"]Foto: Misha Jordaan (Huisgenoot) Foto: Misha Jordaan (Huisgenoot)[/caption]

Hy is op 21 Januarie in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat Nicola se motor in sy besit gevind is.

Ná sy laaste verskyning in die Port Elizabeth-landdroshof verlede Vrydag, is die saak na die Paarl verskuif.

Nicola se lyk is Woensdag veras en daar sal moontlik volgende Woensdag ’n gedenkdiens vir haar gehou word.

Bykomende bron: news24.com