Ander sal weer hul kop op ’n blok sit dat ons inderwaarheid nie alleen in die heelal is nie en dat daar wel ander vorme van lewe in die ruimte bestaan.

’n Video wat onlangs die lig gesien het, toon oënskynlik hoe ’n VVV deur ’n ruimtetydpoort ("wormhole" -- ’n hipotetiese verbinding wat verafgeleë plekke in die ruimte met ’n kortpad verbind) of ’n plasmabuis na die aarde koers kies.

Die video, wat onlangs op ’n Spaanse Facebook-blad gedeel is, word deur sommige VVV-kenners as blote bog en ’n rekenaar-gemanipuleerde affêre bestempel.

Scott Brando van UFO Of Interest sê dieselfde video is al verskeie kere gedeel.

Maar Scott C. Waring van UFO Sightings Daily beweer hierdie video is op 1 Desember geneem.

"Dis ’n uitheemse ruimteskip wat deur die wolke skiet en die aarde verlaat. Dit lyk soos ’n meteoriet, maar dit val nie, dit gaan boontoe."

Die Australiese Nasionale Universiteit-astronoom Brad Tucker sê ’n soortgelyke insident vroeër vanjaar in Australië kan te wyte wees aan "bal-weerlig", ’n vreemde verskynsel in die natuur waar die weerlig lyk soos ’n bal wat ontplof. Dit kan selfs in die lug rondbeweeg."

Hierdie fassinerende video is ’n jaar gelede by Snowflake, ook in Arizona, geneem. Talle VVV-gelowiges beskou Arizona as 'n gewilde besoekerspunt vir uitheemse ruimtereisigers en VVV's.

’n National Geographic-dokumentêr vertel meer van die sogenaamde "Phoenix Lights", een van die fassinerendste VVV-voorvalle. Op Donderdag, 13 Maart 1997, het duisende mense in Arizona twee onverklaarbare groepe ligte gewaar.

Een groep was ’n massiewe tuig in die vorm van ’n V, en groter as ’n paar voetbalvelde saam. Die tweede groep ligte het vir geruime tyd bo Phoenix in die lug gehang.

Op 25 Oktober vanjaar het tientalle inwoners van Phoenix weer soortgelyke ligte gesien. Het die besoekers dalk weer kom inloer?

Bronne: natureworld.com, thesun.co.uk, express.co.uk