In KwaZulu-Natal het ’n man gister (22 Februarie) behoorlik in diep waters beland toe hy probeer om die Tongaat-rivier met sy bakkie oor te steek by die lae brug in Walter Reid-weg, Tongaat.

rivierkar

Die man, ’n buitelander wat vermoedelik in sy 30’s is, se bakkie is deur ’n kitsvloed weggespoel. Hy was halfpad oor die brug toe die sterk water skielik tot byna vensterhoogte styg en die voertuig begin dryf.

“Die bakkie het heeltemal bo-op die vloedwater gedryf,” het die woordvoerder vir die IPSS mediese reddingspan, Paul Herbst, aan Huisgenoot verduidelik.

“Hy was gelukkig om die bakkie se deur oop te druk en betyds wal toe te swem,” sê Paul en maan ander bestuurders om liefs nie ’n brug aan te durf as dit reeds onder water is nie.

Mediese noodbeamptes het die man op die toneel ondersoek, maar hy was ongedeerd en het kort daarna verdwyn. Sy identiteit is onbekend.

Die IPSS-reddingspan het met behulp van ’n sleepdiens dit ná twee uur reggekry om die bakkie uit die water te sleep.

“Die brug by die Tongaat-rivier is nie geneig om te oorstroom nie, maar as gevolg van die afgelope paar dae se konstante reën het dit in ’n kitsvloed ontaard,” sê Paul.

Kyk hier na ’n video van die voorval: