’n Aaklikge botsing op die sokkerveld tussen ’n doelwagter en een van sy spanmaats het byna sy lewe geëis. Genadiglik het ’n teenstander se flink optrede sy lewe gered.

Tydens ’n sokkerwedstryd die afgelope naweek tussen die Bohemians van Praag en Slovacko van die Tsjeggiese Republiek het Slovacko se doelwagter, Martin Berkovec (28), teen een van sy eie verdedigers, Daniel Krch, gebots.

Gelukkig vir Martin was Francis Kone, wat ook vir Togo op internasionale vlak verteenwoordig, op die veld, maar vir die ander span. Dié Bohemians-speler het blitsvinning nadergestorm toe hy sien Martin bly roerloos op die veld lê ná die harde kennismaking met Daniel.

Martin het na bewering sy tong "ingesluk" en Francis was die een wat dit weer uitgetrek het. Dit het Martin se lewe gered.

Martin kon glo nie vir Francis genoeg bedank vir sy flink optrede nie. Op sy Facebook-blad het hy weer later geskryf: “Ek wil graag vir Francis Kone bedank vir sy redding en noodhulp tydens vandag se wedstryd . . . Ek is so dankbaar vir die verligtig en weer eens, baie dankie!!!”

Martin het ’n nag in die hospitaal deurgebring en sal na verwagting heeltemal herstel.

En Francis? Hy’s beslis die man wat jy onder sulke omstandighede op die veld wil hê. Dit was glo die vierde keer dat hy iemand moes help wie se tong op so ’n manier “ingesluk” is!

Dis ook nie die eerste keer dat so ’n heldedaad op die sokkerveld verfilm is nie. In Maart 2014 het die Georgiër Jaba Kankava die Oekraïener Oleg Gusev se lewe in sy tuisland gered nadat Oleg kliphard met ’n teenstander se knie kennis gemaak het.

Bronne: independent.co.uk, nine.com.au, mirror.co.uk