KYK ’n mens Jak de Priester so met daardie plat magie en lenige lyf, sal jy nooit dink hy is ’n man wat hou van lekker eet nie.

Maar wag, dis mos einste dié Jak wat verlede jaar die land platgetoer het met ’n musiekproduksie wat Brood genoem is, en in dieselfde jaar ’n musiek-, poë­sie- en storieboek met dieselfde titel die lig laat sien het. Mmmm, ’n konsert genoem na kos?

Moet ook nie vergeet dat dit juis ’n lied oor ’n lekkerny is wat Jak destyds bekend gemaak het nie: Sally Williams Nougat. Sien, die tekens was nog altyd daar . . .

Hoor jy dan dat Jak en sy vrou, Michelle, en hul kleinding, Jamie (1), in Januarie vanjaar in hul nuwe drieslaapkamerhuis in Parys in die Vrystaat ingetrek het, en dat die kombuis spesiaal ingerig is as die hart van die huis, moet jy dit maar glo: Jak de Priester ken van kos maak.

‘‘Ek het die huis drie jaar gelede gekoop en opknapwerk laat doen,” vertel hy. “Dit het ’n heerlike groot plaaskombuis.’’

Dis egter net wanneer hy lekker kos wil maak dat hy resepte of iets kreatiefs beproef.

“Die res van die tydmaak ek maar hoenderborsies en tjips,’’ erken Jak, wat die jaar afgeskop het met die vertoning Van Lekker Lag Kom Lekker Huil en ’n produksie saam met Koos Kombuis getiteld Brooklyn Babalaas.

Sy volgende album, Roer Jou Voete, tref later vanjaar die rak. Dit bevat 17 oorspronklike liedjies.

Hy’s allesbehalwe ’n bobaaskok, sê hy gou, maar gee hom ’n resep en hy slaan enige gereg aanmekaar. As die lus hom pak, maak hy enigiets van hoender met appelkose tot varktjops met aarbeie. En hy kook graag vir vriende of familie.

‘‘Hulle hou van alles wat ek voorsit, maar vir my is dit altyd lekker om filet te braai. Filet op kapokaartappel met ’n bloukaassous is altyd ’n treffer. My hoendergereg is ook altyd ’n wegholsukses. Dis maar eintlik net hoenderstukkies wat jy in ’n sous maak en dan gooi jy appelkose by.

‘‘Ek kook gewoonlik Maandagaande – dan is dit my kans om iets kreatiefs te doen.

“En ek lyk dalk nie soos die soort ou wat agter ’n vuur kan staan nie, maar ek hou van braai.

‘‘Jamie is ’n baie goeie eter. Baie kinders wil nie groente of ertjies of pampoen eet nie, maar hy’s nie vol fiemies nie. Hy eet alles. Hy trek glad nie sy neus op vir my kos nie. Hy’s ’n groot fan van sy pa se kookkuns!’’

In die Herfsuitgawe 2011 van Huisgenoot-Tempo deel Jak ses van sy gunsteling-resepte met ons lesers. Hier's een van hulle:

Aandete - Kaaps-Maleise hoenderkerrie met appelkose

1 kg hoenderstukke

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

15 ml (1 e) olie

1 x 400 g-pak Cape Malay Curry-kooksous

1 x 420 g-blik appelkooshelftes, gedreineer

gestoomde basmatirys, om mee voor te sit

vars kerrieblare of koljander vir afronding

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Geur die hoender met sout en peper.

Verhit die olie in ’n swaarboompot en braai die hoender daarin tot goudbruin aan albei kante.

Giet die kooksous bo-oor, bedek en bak 30 minute in die oond.

Voeg die appelkose by, roer liggies deur en bak nog 30 minute sonder ’n deksel tot die hoender sag en gaar en die sous dik en geurig is.

Sit voor op gestoomde basmatirys en sprinkel gekapte vars koljander bo-oor of rond af met vars kerrieblare.

• Genoeg vir 6 mense.