Talle voorstanders van die omstrede dansstyl sal jou sê dit is bevrydend en kan jou help ontspan. Maar hierdie paaldansgeesdriftige het dit tot ’n heel nuwe vlak gevoer.

Kat Bailey van Wes-Bridgford in Brittanje het haarself afgeneem toe sy paaldans terwyl sy in kraam is.

Op die video hang die PoleKat-fiksheidsinstrukteur en voormalige lektor in sielkunde by ’n universiteit onderstebo aan ’n paal terwyl sy haar bene in die lug uitsprei.

“So . . . ek is amptelik in kraam :). Het ’n paar uur voor ons na die hospitaal gaan, toe dink ek ek doen ’n bietjie paaldans tussen kontraksies,” het sy geskryf by die video wat sy op Facebook gelaai het.

Dit is nie die eerste keer dat die jong ma, wat PoleKat Fitness in 2011 gestig het, aan haar aanhangers bewys swangerskap laat haar nie juis briek aandraai nie.

“Ek mis my sixpack op die oomblik baie, maar ek het pleks daarvan borste bygekry,” sê sy in ’n ander greep wat sy op die sosialemedia-tuiste gelaai het. Dit is geneem toe sy sewe maande swanger was.

“Toe my arm uit pootjie raak, het ek steeds les gegee en ek is daaroor berispe. Daarom is ek reg vir enige negatiewe terugvoer hieroor.

“My doelwit is om op my verwagte datum ’n menslike vlag met oopgespreide bene te kan doen.”

Die instrukteur het woord gehou toe sy haar vertoning opneem in die nuwe video van 32 sekondes waarop sy haar hoogswanger lyf horisontaal in die lug hou met haar bene oopgesprei.

Die ongelooflike videogreep met die titel Labour Day Iron X is al meer as 270 000 keer op haar Facebook-blad gekyk.

Mense sal seker Kat se manewales veroordeel, maar sy sê: “Dis nie ’n goeie idee om met ’n gevaarlike stokperdjie te begin wanneer jy swanger raak nie, maar oor die algemeen moedig hulle oefening aan terwyl jy verwag.”

En dit lyk of dit geen skade gedoen het nie. Kat het op 1 Augustus ’n gesonde seun, Joshua David Bailey, in die lewe gebring. Sy en haar man, ’n lektor by ’n universiteit, is in hul noppies met die nuwe toevoeging tot hul gesin.

Sources: MailOnline, Mirror.co.uk , Facebook