“Twee hyskrane en die stuk brug wat hulle moes verskuif, het op vyf huise en twee winkels geval,” het ’n woordvoerder van die brandweer gesê. Swaar masjiene is na die toneel gebring ingeval mense onder die rommel vasgekeer was en hulle gered sou moes word.

Die hyskrane, wat van pont af gewerk het, was Maandag besig om die Koningin Juliana-brug, ’n kanaalbrug wat uit die 1950’s dateer, te restoureer toe die eerste hyskraan omkantel. Die ekstra las het die ander hyskraan toe ook laat omtuimel.

Op ’n amateurvideo, geplaas deur die Nederlandse uitsaaier NOS, kan die twee yslike oranje hyskrane op ’n pont op die Oude Rijn-rivier gesien word waar hulle besig was om ’n groot stuk van die brug te dra toe hulle begin skuif en op ’n ry huise omtuimel, deur die huise val en ’n stofwolk in die lug opstuur. Dit het gelyk asof die stuk brug wat hulle gedra het, ook op die geboue beland het.

Volgens NOS het die hyskrane ook op ’n winkel geval wat tweedehandse klere verkoop en ’n winkel getref wat kuns- en tekenbenodigdhede verkoop, maar dit was nie duidelik hoeveel mense in die winkels was nie.

Bronne: BBC, The Guardian, YouTube