Binne 30 sekondes word ’n vrou se handsak gesteel. En die trio drentel ongeërg na buite.

Die groepie bestaan uit ’n man met ’n blou gholfhemp aan en twee vroue wat onderskeidelik ’n pienk en ’n ligte toppie dra.

Hy drentel die restaurant rustig binne asof hy iets by die toonbank gaan bestel. Maar hy is ook die man wie se valkoog die handsak op die sitplek langs die niksvermoedende klant gewaar.

Ná ’n paar sekondes kom die twee vroue ook ewe koel en kalm die restaurant binne. Die een vrou het haar selfoon teen haar oor.

Hulle stap rustig na die man wat nou met sy rug teen die toonbank staan. Die vrou in pienk se ligte kniebuiging trek niemand se aandag nie, maar haar hand maak kontak met die handsak.

Sy skuif dit ’n aks nader aan die kant van die sitplek voor sy weer regop kom. Die vroue versper die sig, maar laat ’n klein gaping vir die man in blou om die handsak te steel. Die drietal wag nog ’n oomblik, oënskynlik besluiteloos op wat om te bestel. Dan stap hulle ewe komkommerkoel met ’n handsak uit wat nie aan hulle behoort nie.

  Bel konst. Hlongwani by 012-685-0000 as jy die drie handsakdiewe herken.

Verhoed so dat handsakdiewe jou dag bederf

1. Ritssluiters: Maak seker jou handsak se ritssluiters is toe, ongeag hoe veilig jy voel met ’n handsak wat oor jou skouer hang.

2. Winkeltrollies: Dis nie veilig om jou handsak aan die winkeltrollie vas te knoop terwyl jy inkopies doen nie. Jou aandag kan genoeg afgetrek word vir ’n opportunis om sy hande op jou beursie te lê.

3. Moenie al jou bankkaarte in jou beursie dra nie. En natuurlik, moet nooit jou PIN in jou beursie hou nie.

4. ’n Oop beursie is so goed soos ’n advertensie. Maak seker dat jy nie jou beursie so wyd oopmaak dat ’n ieder en ’n elk kan sien wat jy alles daarbinne hou nie.

5. Maak ook seker dat jy altyd jou handsak voor jou dra, al is die band om jou skouer.

6. As jy in ’n restaurant is, is die veiligste plek vir jou sak op jou skoot of onder jou dy. Dit kan ongemaklik raak. Waar moontlik, haak jou handsak se band om die stoel se poot waar jy sit, en skuif die handsak so dat jy dit steeds kan sien.

7. Plaas los items bo-op jou beursie in jou handsak. So belemmer jy ’n vlytige sakkeroller se kanse om jou beursie met die eerste probeerslag in die hande te kry.

Bronne: nbclosangeles.com, rd.com, johnnyjet.com