Die helikopter dreun 6 000 voet bo die snikhete bosveld deur die lug. Skielik begin ’n swart spikkel vinnig grond toe val. Eers nadat die wit valskerm oopvou en laer sweef, kan jy die man sien – ’n man met ’n hond teen sy bors vasgegespe.

[caption id="attachment_150048" align="aligncenter" width="600"]Foto: Martin de Kock Foto: Martin de Kock[/caption]

Maar die renosterstroper het hulle ook gesien en hardloop asof sy lewe daarvan afhang. Die oomblik toe die man met die valskerm land, ruk hy die muilband en beskermende bril van die hond se kop af en laat hom los. Die dier streep agter die booswig aan, gryp een arm tussen sy kake vas en ruk hom grond toe. Eers wanneer sy hanteerder by is en die bevel gee, los die hond sy prooi.

Ons staan nader terwyl die “stroper” homself met ’n breë glimlag afstof. Arrow, die Duitse herdershond, swaai sy stert uitbundig terwyl sy hanteerder, Henry Holsthyzen, hom oor die kop vryf en prys. Nog ’n suksesvolle sprong en oefening agter die blad vir die wêreld se eerste – en tans nog die enigste – viervoetige “valskermsoldaat” in die oorlog teen stropers.

“Arrow hou meer van valskermspring as ek,” skerts Henry. Vandag was Arrow se vierde sprong – drie uit ’n helikopter en een uit ’n ligte vliegtuig. Hy is een van sowat 120 honde en 80 hanteerders wat al in vier verskillende wildbeskermingstake opgelei is deur die Ichikowitz-familiestigting – ’n inisiatief sonder winsbejag van die Midrandse groep Paramount, wat wapenstelsels vervaardig.

Arrow het op 17 September die eerste hond geword wat sy vlerkies verdien het in die stryd om renosters en olifante te beskerm. Hiermee het hy ’n plek in Guinness World Records verdien.

Hy was ook onlangs die ster in ’n video van die BBC-nuusdiens. En nou word nog drie honde – Giant, Levy en Alpha – as springhonde opgelei. Giant en Levy is reeds opgeleide “abseil-honde”: Hulle en hul hanteerders daal met toue uit helikopters neer.

Die kwik lees 37 grade hier by die Paramount-groep se K9-opleiding- en hondeteelsentrum naby Rustenburg, en ons gesels onder die koelteboom terwyl ’n bosveldvisvanger êrens naby kwetter. Henry sê die muilband is net daar sodat die hond hom nie dalk byt as iets verkeerd loop en hy paniekerig raak nie.

“Maar dit gebeur nooit nie. Die eerste keer toe ons saam spring, was ek meer paniekerig as hy,” bieg Henry. “Arrow hou daarvan.”

En net asof hy dit wil beaam, spring Arrow ’n rukkie later rats in die kajuit van die Gazelle-helikopter in en neem kiertsregop sy pos in – reg vir aksie.

Dit was 2009 toe Paramount besluit het om daadwerklik betrokke te raak by die stryd teen die onwettige slagting van renosters en olifante, vertel Eric Ichikowitz, direkteur van die Ichikowitz-familiestigting. Die stigting is die liefdadigheidsarm van die internasionale wapengroep. Hulle wou veral aan nasionale parke in Afrika wys honde kan meer doen as net spoorsny.

[caption id="attachment_150050" align="aligncenter" width="600"]Foto: Martin de Kock Foto: Martin de Kock[/caption]

Hulle het die honde en hul gewapende hanteerders opgelei om saam met troppe renosters en olifante in die veld rond te beweeg – net ver genoeg van die diere om hulle nie te steur nie, maar naby genoeg om hulle te beskerm teen onwettige jagters.

Van hulle dien in die Krugerwildtuin, Addo Nasionale Park en privaat wildreservate in Suid-Afrika. Ander is al in Zambië en Botswana ontplooi.

Een van die honde, Killer, en sy hanteerder het binne agt maande sowat 150 stropers in die Krugerwildtuin gevang.

’n Helikopter is ook deur die Ichikowitz-stigting aan die parkeraad van Gaboen geskenk. Veral olifantstropers is in dié Wes-Afrikaland ’n groot probleem.

“Ons aanvaar geen betaling vir die opleiding van honde en hul hanteerders nie; dit is liefdadigheidswerk wat ons doen,” vertel Eric. “Ons wil verseker dat net die bestes gebruik word om ons bedreigde spesies te beskerm.”

Maar hoekom honde wat abseil en valskermspring?

[caption id="attachment_150051" align="aligncenter" width="450"]Foto: Martin de Kock Foto: Martin de Kock[/caption]

Wel, eerstens om die honde en hul hanteerders blitsig te kan ontplooi, verduidelik Henry. Maar ook omdat ruie en onherbergsame terrein dit soms moeilik maak om stropers in voertuie of selfs te voet te jaag. Dis waar die lugspan inkom – of dit nou in ons eie bosveld of die oerwoud in Gaboen is.

Henry sê in die Krugerwildtuin – waar swaar gewapende stropers soms veg eerder as vlug – het honde al waarskynlik heelparty hanteerders en wildbewaarders se lewe gered. “Die honde waarsku ons vroegtydig as daar ’n lokval gestel is.”

Dis nou een van die abseil-spanne se beurt om hul slag in ’n veldoefening te wys.

Op die grond word twee vlugtende “stropers” in ’n wit bakkie agtervolg deur ’n K9-span in ’n pantservoertuig. In die lug is Quentin de Jager en sy hond Levy reg vir aksie.

Die helikopter swiep laag oor die bakkie en dwing die voertuig tot stilstand. Terwyl die helikopter in die lug hang, gly Quentin teen ’n tou af met Levy onder sy arm. Een van die stropers spring uit die bakkie en probeer weghardloop, maar die hond blits agterna die oomblik toe hy grond onder sy pote voel en trek hom plat.

Die man agter die bakkie se stuurwiel wil intussen weer wegjaag, maar die K9-pantservoertuig is nou ook op die toneel en versper sy pad. Nog een van die honde, Alpha, spring uit die pantservoertuig, storm na die bakkie en gryp die stroper aan sy arm deur die oop venster.

Sending voltooi.

Nadat Quentin vir Levy geprys het, vertel hy: “Ek het nog altyd ’n liefde vir diere en die Bosveld gehad. Dit voel vir my ek kan met my werk hier ’n verskil maak.”

Hy is tans hanteerder en opleier van honde, maar is besig met 'n kursus wat hom sal bekwaam om ook ander hanteerders op te lei. So wil hy help om meer spanne die veld in te stuur na waar hulle benodig word om die aanslag op bedreigde wildspesies te stuit.

DIE helikopter is terug op die grond en Henry en Arrow benut die skaduwee wat dit teen die warm son bied. Arrow se wakker oë bespied die omgewing gedurig.

“Ons verloor renosters by die minuut in Afrika. As ons nie iets doen nie, gaan toekomstige generasies net in boeke van renosters lees,” sê hy en vryf Arrow ’n slag oor die kop. “Honde is die beste wapen teen stropers.”

Die twee van hulle het ’n hegte band gevorm, vertel hy. “Ek werk saam met my beste vriend in die veld. ’n Hond voel sy hanteerder se emosies aan. As ek onseker en bang is, gaan hy onseker en bang wees.”

Maar saam sal hulle enige plek heen gaan – al is dit ook swewend tussen hemel en aarde.