Die rooi tapyt by Vir die Voëls se première in Johannesburg het Donderdagaand behoorlik van die sterre geskitter.

Verskeie sangers, akteurs en mense in die vermaakbedryf het dié geleentheid by Montecasino bygewoon, waar hulle teruggeneem is na die laat 1970’s. Ná die fliek het dit omtrent in die sosiale media gegons, veral oor hoe die rolprent fliekvlooie gaan laat lag en huil, en hoe dit die nostalgiese hartsnare gaan roer.

“Wat ’n lieflike aand saam met wonderlike mense en ’n fantastiese film! Vir die Voëls is ’n moet-sien-film,” het die Getroud met Rugby-aktrise Nadia Beukes op Facebook geskryf.

“Wow, wat ’n film,” het Leandie du Randt, aktrise en aanbieder van Slank, geskryf. Die Eintlik Nogal Baie-aktrise Marisa Drummond het geskryf: “Laat die sosiale media brand! Hierdie is die fliek der flieks!”

Die aand se groot sterre was Simoné Nortmann en Francois Jacobs, wat onderskeidelik die karakters van Irma en Sampie vertolk.

Kyk hoe spoggerig het die bekendes op die rooitapyt gelyk:

[post-slider]

Vir die Voëls vertel die verhaal van Sampie de Klerk en Irma Humpel. Irma en Sampie, op wie se liefdesverhaal die fliek gegrond is, het self die aand bygewoon.

Al is hulle ’n doodgewone egpaar van Newcastle, is hul liefdesverhaal so vol kinkels en drama dat dit die silwerdoek gehaal het. Dit is uit honderde Huisgenoot-lesers se inskrywings gekies as inspirasie vir die draaiboek vir Vir die Voëls, wat deel van ons eeufeesviering uitmaak en saam met kykNET vervaardig is.

Hul liefdesverhaal, wat in die laat 1970’s afspeel, is wel plek-plek aangepas om beter op die silwerdoek te werk.

Die fliek draai van 25 November landwyd in teaters.