Daardie lawwe fliek oor ’n kamma-verslaggewer, Borat, het die mense van Kazachstan om al die verkeerde redes berug gemaak dat hulle “agterlik” is.

[caption id="attachment_129279" align="alignnone" width="600"]Skerpgreep: YouTube, Tengrinews TV Skerpgreep: YouTube, Tengrinews TV [/caption]

Maar ’n inspirerende video wat nou oral op die internet gedeel word, het bewys van die inwoners van hierdie landjie in Sentraal-Asië het harte van goud – veral vir ’n dier in nood. Dis al sedert Dinsdag 28 00 keer op Instagram gekyk en meer as 265 000 keer op YouTube.

Een van die mans het op sy sitvlak teen die betonwal van die kanaal afgegly, die hond uit die stroom gered en die steekhaarbrakkie teen die wal probeer opstoot.

Toe dit nie werk nie, het vier mans mekaar se arms vasgegryp en ’n ketting gevorm om die dier na veiligheid op te trek.

’n Ooggetuie, Marjana Chadreewa, het die video met haar slimfoon geneem en dit aanlyn afgelaai. Diereliefhebbers het dadelik gereageer met kommentaar soos: “Ek wens daar was meer sulke mense” en “Mag hierdie mense met gesondheid en rykdom geseën word.”

Dis nie duidelik wat van die hond geword nie, maar hy het seker ’n hegte band met sy redders gesmee. Hopelik word hy soos ons eie “Groot Gat-hond”, Kymberleigh, ook deur een van sy redders aangeneem.

Daardie hond is deur ao. John Seeley van die polisie se soek-en-opsporingseenheid in Kimberley gered en later aangeneem.

Kyk die video hier:

Bronne: Metro.co.uk, Yourdailydish.com, Dailymail.co.uk, Huffingtonpost.com