Wie maak vir Hartenbos lekker? Wel, dié Desember sal dit seker die opgewonde vakansiegangers wees wat die eerste fase van die nuwe Seefront-ontwikkeling gate uit kan geniet!

“Ons het dit gemaak,” het die ATKV-Hartenbos vanoggend op Facebook laat hoor ná Huisgenoot in November geskryf het oor dié kusdorpie wat met ’n splinternuwe voorkoms sal spog na die ATKV-oord hernuwe en opgeknap is.

“Dit was tyd vir vernuwing en verandering,” het die sentrumbestuurder, Adrie van Dyk toe vertel. “Alles was oud en afgeleef. Nou gaan alles net mooier, beter en groter wees wanneer dit klaar is.”

En vandag slaak die ATKV ’n sug van verligting na hulle “teen alle verwagting en baie kritiek” fase een kon inwy en hulle het boonop foto’s van dié oord se nuwe baadjie gedeel. “Baie geluk aan almal wat dit ’n sukses gemaak en bewys het dat ATKV-Hartenbos nog steeds die hartklop van ATKV-oorde is.

“Ons is opreg trots op wat hier vermag is in slegs ’n paar maande. Sien uit om almal hier te verwelkom!”

KYK HIER HOE DINGE NOU LYK BY HARTENBOS!

[post-slider]