Woensdag het die regisseur, Richard Curtis, aangekondig ’n laat opvolg gaan vervaardig word, berig The Guardian. Ongelukkig sal die nuwe rolprent korter as ’n gewone een wees en dit sal op TV te sien wees en nie in die teater nie.

Maar ons kry eindelik die kans om uit te vind wat met die onderskeie paartjies in die Britse rolprent gebeur het – veral die minlikste een, die klein tromspeler, Sam (Thomas Brodie-Sangster), en die Amerikaanse sangeressie, Joanna Anderson (Olivia Olson).

Die nuwe aanbieding sal ter viering van Rooineusdag in Brittanje bekendgestel word, en met die (slim) titel Red Nose Day Actually.

Die rolprentmakers het beloof om ook die ander gunstelinge in die rolverdeling terug te bring: Keira Knightley, Hugh Grant, Martine McCutcheon, Andrew Lincoln, Colin Firth, Lúcia Moniz, Liam Neeson, Bill Nighy, Marcus Brigstocke en Rowan Atkinson.

Emma Thompson (Karen) is merkbaar afwesig, en natuurlik die geliefde Alan Rickman (Karen se ontroue man, Harry), wat verlede jaar tragies oorlede is.

Die rolprent sal op 24 Maart op BBC1 in Brittanje uitgesaai word en op 25 Mei op NBC om met die Amerikaanse ekwivalent van Rooineusdag saam te val.

Ter viering van die groot nuus het ons ’n vergelyking tussen toe en nou gemaak. Kan jy glo 14 jaar het verloop sedert die oorspronklike rolprent harte vermurwe het?

Keira Knightley

Sy het Juliet gespeel. Haar nuwe man se beste vriend, Mark, was op haar verlief.

Keira (31) het later in vele suksesvolle rolprente ’n hoofrol vertolk, onder meer Atonement, die Pirates of the Caribbean-flieks en The Imitation Game. Sy is getroud met James Righton (33) van Klaxons-faam en het in Mei 2015 die lewe geskenk aan hul dogter, Edie.

Hugh Grant

Hy het die premier in die klassieke romantiese komedie gespeel.

Die berugte rokjagter (56) is steeds een van Brittanje se bekendste akteurs. Sy mees onlangse hoofrol was saam met Meryl Streep (67) in Florence Foster Jenkins.

Thomas Brodie-Sangster

Hy het die op die jeugdige ouderdom van 12 jaar rol van Sam vertolk.

Die 26-jarige akteur het ’n suksesvolle loopbaan uitgekerf met rolle in onder meer Game of Thrones en die Maze Runner-rolprente.

Martine McCutcheon

Nadat Martine (40) met die Britse sepie EastEnders bekendheid verwerf het, het sy in Love Actually Natalie gespeel, die kantoorwerker wat op die premier verlief raak.

Ná die rolprent het Martine haar loopbaan hoofsaaklik as TV-aktrise voortgesit. Sy is nou ’n gaspaneellid op die geselsprogram Loose Women.

Andrew Lincoln

Andrew (43) het die rol vertolk van Mark, wat verlief was op Juliet (Keira). In een van die mees ikoniese (en soetsappigste) oomblikke in Love Actually verklaar Mark sy liefde aan Juliet in notas wat op plakkate geskryf is.

Deesdae kan jy Andrew in The Walking Dead sien. Hy speel Rick Grimes in die uiters suksesvolle zombie-apokalips-TV-riller.

Olivia Olson

Olivia (24) was Joanna, op wie Sam sy hart verloor het.

Olivia leen nou in die animasie-televisiereeks Adventure Time haar stem aan die karakter Marceline.

Colin Firth

Colin (56) het die skrywer Jamie gespeel, wat ten spyte van ’n taalhindernis verlief raak op sy beeldskone Portugese huishoudster, Aurélia (Lúcia).

Colin is steeds ’n uiters suksesvolle akteur. Vir sy hoofrol as koning George VI in The King’s Speech het vyf pryse gewen, onder meer die Oscar vir beste akteur.

Bill Nighy

Bill (67) het die Bafta-prys vir beste byspeler gekry vir sy uitbeelding van die bejaarde rocker Billy Mack.

’n Dekade en ’n half later rock Bill voort. Hy het onlangs ’n hoofrol as sers. Wilson vertolk in die nuwe weergawe van Dad’s Army.

Liam Neeson

Liam (64) was Daniel, die wewenaar wat sy jong stiefseun (Sam) met hartsake help.

Die legendariese Liam het sedert Love Actually in baie suksesvolle rolprente gespeel, onder meer Taken en meer onlangs A Monster Calls.

Rowan Atkinson

Rowan (62) was in ’n klein rol te sien: as Rufus, ’n juweleverkoopsman.

Hy is steeds ’n gewilde gesig in Britse komedie. Hy het die rol van die ongelukkige spioen Johnny English en die klassieke Britse komediekarakter Mr. Bean hervat sedert Love Actually in 2003 uitgereik is.