’n Bybel-studiegroep in Charleston in die Amerikaanse deelstaat Suid-Carolina het op 15 Junie 2015 ’n jong man met ope arms by hul kerk verwelkom. "Ons het gedink dis iemand op soek na die Here."

Maar Dylann Roof was op allesbehalwe geestelike leiding op soek. Hy het mense gesoek om dood te maak.

Selfs die feit dat hulle weerloos in ’n kerkgebou was en hom welkom laat voel het, het nie ’n aks aan sy koelbloedige planne verander nie.

Hy was 21 toe hy op daardie noodlottige aand met sy swart voertuig die parkeerterrein van die Emanuel African Methodist Eposcopal-kerk binnegery het.

Aan hom het hy sewe magasyne gehad, asook ’n sak en ’n Glock .45-pistool. Hy het die pistool met sy verjaardaggeld gekoop.

’n Vriend het sowat ’n week voor die voorval sy vuurwapen weggesteek. Maar vrees het hom dit weer in Dylann se kattebak laat terugsit.

Hy het na bewering sowat 15 minute lank met die groep deurgebring. Hulle het opgestaan om te bid. Dylann het reggestaan om te skiet.

Tywanza Sanders (26) is vyf keer geskiet nadat hy vir Dylann gesê het dis nie nodig om hulle te skiet nie.

"Ons het geen bedoeling om jou skade te berokken nie," het hy volgens een van die oorlewendes vir hul lewens probeer pleit.

Maar ’n halfuur na Dylann aankoms sou daar nege lyke gewees het. Hy het nie omgegee of hulle oud, jonk, siek of gesond was nie. Een van hulle was die senior pastoor en staatsenator Clementa C. Pinckney. Hulle moes sterf.

Hierdie video wys die laaste oomblikk van die Bybelstudiegroep. Nege van hulle sou nooit weer by daardie deur uitloop nie, nooit weer hulle vriende groet, omhels of saam uit die Bybel lees nie.

WAARSKUWING: VIDEO MAG SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL

Nét drie mense het sy dodelike besoek oorleef.

En Dylann? Hy loop koelkomkommer by die kerkdeur uit na sy onvergeeflike gru-daad, sy vuurwapen in sy regterhand en wat moontlik bloed is, op sy hemp.

Hy het glo aan selfdood gedink sou daar ’n konfrontasie met die polisie wees. Maar daar was nie polisie nie. En Dylann ry ongestoord weg . . .

’n Reuse-soektog is van stapel gestuur.

’n Oplettende motoris, Debbie Dills, sou die sleutel tot sy inhegtenisname wees. Dit was sy wat die swart Hyundai Elantra en Dylann se opmerklike haarstyl herken het. Sy het haar werkgewer gekontak en persoonlik meer as 56 km agter hom aangery het omdat sy onseker was of die polisie sou reageer.

Om 10:44 die oggend na sy moordbesoek aan die kerk is Dylann by ’n padblokkade in Shelby, Noord-Carolina gevang. Dit is sowat 394 km van die bloedige slagtingstoneel wat hy agtergelaat het. Dylann het glo nie gehuiwer om skuld te erken nie.

"Ek het na daai kerk in Charleston gegaan en dit gedoen," het hy in sy bekentenis-video gesê voordat hy begin lag het. "Ja, ek het hulle geskiet," en hy lag weer.

Het hy geweet hoeveel mense hy doodgeskiet het? "Ek sou raai, dalk vyf. Ek's regtig nie seker nie." Toe Dylann se verhoor op Woensdag, 7 Desember 2016, ’n aanvang geneem het, het sy ma Amy luidens berigte 'n hartaanval gehad nadat sy moes aanhoor hoe berekend haar seun te werk gegaan het om mense te vermoor. Sy het glo sonder ophou bly sê "Ek’s so jammer, ek’s so jammer." Dylann se regspan wou op grond hiervan die saak laat uitgooi, maar hul aansoek was onsuksesvol.

Die 3D-grafika wat aan die hof gewys het om die moordtoneel uit te beeld, vertel die grusame verhaal van ’n jong man wat geglo het hy "moet iets doen".

Bybels, handsakke, koeëldoppies en leë magasyne lê die wêreld vol. Teen die muur is daar ’n plakkaat: "Geloof, Hoop en Liefde".

Een van die drie wat Dylann se dodelike besoek oorleef het, was Tywanza se ma, Felicia Sanders. Sy moes aanskou hoe haar seun en haar tante koelbloedig doodgeskiet word terwyl sy self haar 11-jarige kleinkind met haar eie liggaam beskerm het.

Felicia het vertel van haar kleindogter se angs. Sy het haar aangesê om te maak of sy dood is.

"Ek het haar gesig so styf teen my vasgedruk dat ek gedink het ek het haar versmoor," het sy getuig.

Tydens haar emosionele getuienis het Felicia onder meer gesê: "Ek het my seun die wêreld sien binnekom en ek het gesien hoe my seun die wêreld verlaat."

Polly Shephard het oorleef danksy Dylann se verdraaide soeke na erkenning. Hy het haar gevra of sy geskiet is. Daarna het hy aan haar gesê dat hy haar "lewendig wil hê om die storie te vertel".

Dylann staar 33 klagte, onder meer een van haatmisdaad en nege vir die gebruik van ’n vuurwapen om te dood, in die gesig. Sy verdediging het glo aangedui dat hy skuldig sal pleit op moord sou die doodstraf nie ter sprake wees nie.

Die slagoffers

[caption id="attachment_150040" align="aligncenter" width="600"]Skermgreep: YouTube. Skermgreep: YouTube.[/caption]

1. Cynthia Marie Graham Hurd (54)

2. Susie Jackson (87)

3. Ethel Lee Lance (70)

4. Depayne Middleton-Doctor (49)

5. Clementa C. Pinckney (41)

6. Tywanza Sanders (26)

7. Daniel Simmons (74)

8. Sharonda Coleman-Singleton (45)

9. Myra Thompson (59)

Bronne: edition.cnn.com, nbcnews.com, wikipedia.org, theguardian.com, buzzfeed.com