Wie sal dan nou ‘nee’ sê vir ’n tweede wittebrood in Zanzibar, al moes jy nou letterlik jou pad na die eksotiese eiland oopdans?

Wel, vir Bobby van Jaarsveld was dit ’n maklike keuse om sy danspassies (al glo Bobby hy het twee linkervoete) in te span om vir hom en sy geliefde, Annatjie, ’n weeklange wegbreek in te palm. Sowat ’n maand gelede het die lugredery Mango die sangsensasie en Voice-aanbieder genader om vir ’n skamele drie sekondes in ’n video te verskyn en in ruil daarvoor kon hy en sy vrou vir sewe dae op Zanzibar gaan uitspan, skryf Bobby – ’n pa van drie woelwaters – op sy Facebook-blad.
“Enigeen wat my ken, weet ek haat dit om te dans en as jy my ooit sien dans, moet jy weet dit was of die wyn of my vrou wat my gedwing het. Maar Mango het my oorgewen met ’n ‘gratis vakansie’ en ek het die dansery op die ou end nogal geniet. “As daar nou een ding is waaroor ek en my vrou gaande is, is dit om op die strand te lê en vir ’n week niks te doen behalwe mengeldrankies drink, slaap en eet nie,” vertel hy en voeg by dat dit hul tweede besoek aan Zanzibar is, maar dat dié vakansie-oord hul wildste drome oortref het.

“Ons was aangenaam verras met die stukkie hemel op aarde waar ons gebly het en ons het al baie eilande en plekke besoek, maar hierdie is die beste vakansie-oord waar ons nog ooit was. Van die ligging tot die diens by die oord – alles was perfek!

“Ek en Annatjie wil net dankie sê vir ’n wonderlike week, baie dankie vir die uitstekende diens en die heerlike ruskans wat ek saam met my vrou kon geniet.”