Die Suid-Afrikaner en Daily Show-aanbieder Trevor Noah het onlangs met die Amerikaanse president, Barack Obama, gesels oor alles van ras tot Rusland en Donald Trump. Ongelukkig kan aanlyn weergawes van die onderhoud nie op Suid-Afrikaanse rekenaarskerms gekyk word nie.

In die video vertel president Obama hy glo die meerderheid mense het goeie harte binne hulle. "Daar is nog nie ’n tyd in my lewe of presidentskap gewees waar ek gevoel het ek mag nie sê wat ek wil nie. Ek het wel al gewonder hoe ek iets op ’n diplomatiese manier kan sê," het president Obama gesê op Trevor se vraag oor hoe mense van verskillende rasse met die rasse kwessie moet omgaan. Heelparty internetgebruikers het president Obama en Trevor geprys vir die onderhoud en bygevoeg dat dit die belangrikste onderhoud is wat Trevor nog in sy lewe gevoer het.

Suid-Afrikaners kan uitsendings van The Daily Show Dinsdae aande om 21:00 op Comedy Central (Kanaal 122 op DStv) kyk.