Ons ken hom as die aweregse seerower Jack Sparrow in die gewilde Pirates of the Caribbean-reeks, maar Vrydag was die akteur Johnny Depp vir ’n ander rede Jack.

Dié keer was dit om die siek kinders in die Great Ormond Street-kinderhospitaal in Londen op te beur.

Volgens Mail Online het hierdie hospitaal ’n baie spesiale plek in Johnny se hart omdat sy dogter, Lily-Rose (nou 17), in 2007 daar suksesvol vir nierversaking behandel is. Die Hollywood-akteur het deur die hospitaalgange geloop in Jack Sparrow se kenmerkende uitrusting: ’n pruik en seerowershoed op die kop, ’n besmeerde hemp, ’n swart onderbaadjie en swaar stewels.

Die opgewonde kinders kon nie glo wie hulle besoek nie.

A photo posted by Eithne ? (@eithnem) on

’n Instagram-gebruiker genaamd frankislove het ’n foto gedeel van Johnny wat ’n kleuter vashou en begeskryf: “Ja, mense, dit is inderdaad Johnny Depp saam met my pragtige niggie. Die fantastiese besoekers is een van die min voordele van Kerstyd in die hospitaal wees.”

Johnny het al voorheen op die BBC-program The Graham Norton Show oor sy Kersbesoeke aan Great Ormond Street gesels.

“Vir my is dit ’n geskenk. Hulle gee my ’n geskenk,” het hy gesê en bygevoeg: “Dit was die donkerste tyd van my lewe toe my dogter siek en in Great Ormond Street was. Ek doen nog altyd die besoeke, maar ná daardie ervaring het dit vir my ál belangriker geword. “Die kinders is so dapper, en om die ouers te laat glimlag of lag beteken vir my die wêreld.”

Lily, ’n model, is die oudste kind Johnny en die Franse aktrise, model en sangeres Vanessa Paradis (43). Hulle het voorheen lank uitgegaan en het ook ’n seun, Jack (14).

Johnny sal binnekort weer sy seeroweruitrusting aantrek vir Pirates of the Caribbean: Dead Men Tell No Tales, wat in 2017 uitgereik word.

Bron: Mail Online