Daar is nie net ’n hele paar nuwe gesigte wat gaan nesskop in die sepie-weergawe van Getroud met Rugby nie – die sepie spog ook met ’n spilnternuwe stel!

Kykers gaan steeds sien hoe spelers van die Stryders-rugbyspan kom keel nat maak in ’n opgeknapte Pottie se Plek en hulle sexy lywe wys in Stryders se oorgedoende kleedkamer, maar ook hoe die rugbymanne se vroue koffie drink, hulself laat optof en hartsgehemeime deel in Bibi’s se skoonheidsalon/koffiewinkel.

[post-slider]

Hulle gaan in die Bekker-gesin van Bloemfontein se gesellige woning kuier, ’n draai gaan maak in die rokjagter Blitz se eenslaapkamerwoonstel, besoek aflê in die moderne huis van die Cloete-egpaar en hulle vergaap aan die Greeff-egpaar se grênd woning verfraai in ’n Toskaanse-styl.

Getroud met Rugby se formaat is onlangs verander en word van 4 April weeksaande om 18:30 as ’n sepie eerder as ’n dramareeks op kykNET uitgesaai.

Lees ook: Suidooster-temalied kry spoggerige musiekvideo

“Dit was eintlik nog altyd ’n sepie vermom as ’n dramareeks. Now it came out of the closet,” het Deon Opperman, hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger, Donderdagaand by die sepie se bekendstelling by Atlas Studios in Johannesburg gesê.

“Kykers kan al die opwinding, glans en soort stories van die oorspronklike reeks verwag, maar dit gaan vertel word op ’n manier wat die hele gesin toelaat om te kyk. Daar is eye candy en sulke dinge, maar dis nie vuil, stout of gaan ouers laat sê: ‘Kinders maak toe julle oë nie.’”.

Hy sê die sepie sal wel ’n paar taboes aanraak.

Lees ook: Suzelle DIY se selfdoen-wenke eersdaags kassie toe

“Die storielyne is relevant tot hedendaagse gebeure en sal aktuele kwessies takel wat mense regtig daagliks moet deurmaak. Dit gaan nie wees soos in La-la-land wees waar niks te doen het met hulle werklikheid nie. Kykers moet kan sê: ‘Dis my lewe daai of ek ken iemand wat soos dit is.’”

Maar die sepie gaan ook kykers laat droom.

“’n Mens kyk nie net sepies om die grim realiteit van jou lewe terugweerspieël te sien nie,” verduidelik Deon. “’n Mens wil ook ’n wêreld sien wat ’n mens laat dink en wonder oor nog meer.”

– Deur Marisa Fockema

Ander stories op Huisgenoot.com:

Derick se roerende brief aan Joost

Kyk net Mamma se liefling! Bekendes deel kostelike kiekies van hul oulike spruite

Vir Altyd verskuif grense ná hul meeste geld nog vir Afrikaanse fliek verdien

Desiré Gardner omtower in ‘vurige, borrelende blondine’ én deel wonderlike nuus!

Kyk: Wat sou Altus Theart en sy medespelers gedoen het as die akteursgogga nie gebyt het nie?