Gisteraand (vanoggend Suid-Afrikaanse tyd) het Brasilië se João Vítor de Oliveira (24) gewys jy kan dit in hekkies ook doen. In nat toestande by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro het dié 110 m-hekkiesatleet oor die wenstreep geduik om vir die halfeindronde van dié atletieknommer te kwalifiseer.

Die duik was die moeite werd – hy het met ’n tyd van 13.63 sekondes gekwalifiseer.
Daardie duik het hom die broodnodige 0,01 sekonde gegee wat hy nodig gehad het om te kwalifiseer. Hy het 0,01 sekonde voor Suid-Afrika se Antonio Alkana geëindig. Hy het ook Mikel Thomas van Trinidad uitgestof. Nadat almal oor die wenstreep is, het João net daar op sy knieë bly sit en die skerm dopgehou. Toe hy opstaan het die toeskouers hom toegejuig.
Ná die tyd het João gesê die duik het ’n noodsaaklike deel van sy wedloopstrategie geword.

“Ek doen dit altyd; dit is nie ’n ongeluk nie. Ek het al my ribbes gebreek toe ek dit in China gedoen het.

“Mense sê ek moet dit nie doen nie, maar dit kom uit die hart uit. Ek plaas myself eerste,” het João gesê.

Bronne: nbcolympics, Daily Mail, telegraph.co.uk