Menandi se ma, Gwennie, het twee maande gelede dié oulike video aan Huisgenoot gestuur waarin haar dogter luidkeels saamsing op Karlien se treffer Geskeurde Jeans.

“Kan ons nie hierdie passievolle driejarige help om haar droom waar te maak nie? Haar droom om Karlien van Jaarsveld te ontmoet,” het Gwennie versoek.

Huisgenoot het gehelp deur Karlien – saam met die video in ’n storie op ons webtuiste – te vra of sy haar grootste aanhanger sal ontmoet.

Die video is wyd op sosiale media ge-like (ook deur Karlien se ma, Ronél Brink, haar jonger suster, Cara Brink, en haar pa, Bob van Jaarsveld). Dit het eindelik ook by Karlien self uitgekom.

Gwennie het gesels met Karlien se bestuurder, Aida Steyn, wat gereël dat hulle op 29 Augustus Karlien se vertoning by The Barnyard Theatre in Parkview, Pretoria, bywoon en haar ontmoet.

“Ons was natuurlik heel eerste daar,” vertel Gwennie. “Toe ons daar aankom, het Aida ons by die deur kom haal omdat ons met ’n klomp geskenke ingegaan het.”

Daar was onder meer ’n A3-bladsy wat die hele storie van die aanloop tot hul ontmoeting saamgevat het, twee hempies vir Karlien se tweeling, Daniël en Eliah (waarop hul name en Bybelversies gedruk is) en ’n boks waarin Karlien haar Bybel kan bêre.

[caption id="attachment_135361" align="aligncenter" width="600"]Waar alles begin het. Foto verskaf. Waar alles begin het. Foto verskaf.[/caption]

“So ’n halfuur voor die vertoning wou Menandi badkamer toe gaan en toe loop ons Karlien heel toevallig raak,” vertel Gwennie.

“Daai oomblik toe Menandi Karlien sien, was onbeskryflik. Sy het haar amper om gehardloop. Sy wou haar nie laat gaan het nie.

“Toe die vertoning begin, wou Menandi met alle mag op die verhoog klim. Ek moes net keer,” vertel Gwennie laggend.

Maar toe Menandi se gunstelingliedjie, Geskeurde Jeans, speel, kon haar ma niks meer doen nie. Voor Gwennie haar oë kon uitvee, was Menandi saam met Karlien op die verhoog.

Al wat sy kon doen, was om haar kamera uit te haal en om die oomblik te verewig.

Karlien het gehurk sodat Menandi, wat heeltemal betower was, kon saamsing.

“Karlien het haar heeltyd gedruk en haar ’n soen gegee. Sy het haar in ’n stadium op haar heup getel terwyl sy gesing en dans het. Menandi wou net heeltyd die mikrofoon vashou.”

Geen woorde kan die aand beskryf nie, sê Gwennie. Ná die vertoning het hulle saam Karlien foto’s geneem en haar geskenke vir haar gevat.

[caption id="attachment_135362" align="aligncenter" width="600"]Menandi se droom word waar. Foto verskaf. Menandi se droom word waar. Foto verskaf.[/caption]

“Karlien was absoluut wonderlik en is so ’n amazing vrou,” sê Gwennie. Menandi sê boetie, Jayden (5), kon nie glo dis regtig Karlien nie.

[caption id="attachment_135363" align="aligncenter" width="600"]Jayden en sy sussie, Menandi, saam met Karlien. Foto verskaf. Jayden en sy sussie, Menandi, saam met Karlien. Foto verskaf.[/caption]

“Sy is dan net op die TV,” het hy vir sy ma gesê. “Toe ons moes ry, wou Menandi net by Karlien bly. Dit was werklik ’n spesiale aand, sê Gwennie.

“Drome word waar.”