Die agterpote gly-gly, maar toe die katjie se bolyf eers oor die glaspaneel glip, is daar eensklaps ’n krieweling in die vertoonkas langsaan.

’n Stertswaaiende hondjie spring orent en begin opgewonde teen die skeiding tussen hulle twee krap.

Dit lyk amper asof die hondjie die buurkat soen van blydskap toe die twee van aangesig tot aangesig kom, sonder die belemmerende glasmuur wat hulle tot nou toe van mekaar geskei het.

Danksy ’n spanpoging, aangedryf deur die hondjie se stert en die katjie se glyende agterpote, bevind die twee hulle spoedig in dieselfde vertoonkas.

Soveel opgewondenheid en blydskap sien jy selde, selfs wanneer beste vriende mekaar ná ’n lang tyd weer sien.

Terwyl die katjie se vasberadenheid en die hondjie se vreugde jou dalk laat glimlag, is dit hartseer dat die twee so in afsondering aangehou en vertoon word.

Die afgelope paar jaar moedig die mantra “Adopt, don’t shop” mense wêreldwyd aan om eerder diere aan te neem as te koop.

Hoekom is dit beter om aan te neem as om te koop?

Die grootste diereregte-organisasie ter wêreld, Peta (Mense vir die etiese behandeling van diere), sê jy kan nie liefde koop nie, maar jy kan dit aanneem deur jou troeteldier by ’n diereskuiling te kry.

Volgens The Humane Society in Amerika weet jy jy red ’n lewe deur aanneming. Die groep noem voorts ’n aangenome hond is ongelooflik spesiaal – om die waarheid te sê een uit 2,7 miljoen-spesiaal. Dit is hoeveel honde en katte jaarliks in Amerika uitgesit word.

’n Troeteldier wat jy van die DBV aanneem, word ingeënt en ontwurm en sal op een of ander manier geïdentifiseer word, hetsy deur ’n mikroskyfie of ’n halsband.

Wanneer jy ’n troeteldier aanneem, het jy reeds ’n goeie idee van sy persoonlikheid en of julle by mekaar gaan aanpas.

’n Hond wat deur sy vorige eienaar weggegooi is, is gewoonlik net so gretig om deel van ’n liefhebbende groep te word en sal ’n hegte band vorm wanneer hy veilig en geborge voel.

Dis ’n wen-wen-situasie vir jou en jou aangenome troeteldier. Jy kry ’n nuwe beste vriend en ’n hawelose dier kry ’n tuiste.

En, soos die DBV-gesegde lui: “Die besit van ’n troeteldier is ’n voorreg, nie ’n reg nie.” Maak dus die beste van hierdie voorreg.

Bronne: peta.org, humanesociety.org, petrescue.com.au, nspca.co.za