[caption id="attachment_153760" align="alignnone" width="600"]Die verliefde paartjie! Foto: Corlia Deysel/ Corlia Booysen Photography Die verliefde paartjie! Foto: Corlia Deysel/ Corlia Booysen Photography[/caption]

Petroné Snyman (25), ’n konsultant by ’n inligtingstegnologiemaatskappy, het op Sondag 4 Desember gedink sy en haar kêrel van die afgelope twee en 'n half jaar, Charl Kruger (26), gaan net ’n lekker Sondagoggendontbyt in Johannesburg geniet.

Charl het Petroné die oggend by ’n vriendin in Johannesburg opgelaai en skielik koers gekies Pretoria se kant toe.

“Hy het vir my gesê ons gaan sommer by ’n plekkie in Johannesburg eet; so dit was vir my vreemd, maar ek het eers niks gesê nie.”

Toe hulle by ’n vulstasie stilhou, kon Petroné nie meer haar nuuskierigheid beteuel nie. “Hy sê toe vir my hy moet ys koop, want ons gaan piekniek hou. My eerste gedagte was net: Wat as hy my vandag vra om te trou!”

Petroné het dadelik handeroom begin soek. “Ek het sommer my naels so met my vinger begin poets,” sê sy laggend.

[post-slider]

Hulle het by Magnoliadal-park in Pretoria parkeer en ’n sitplek gekry. Maar toe sy die koelkis, die rugsak en plastieksakke met eetgoed sien, het sy besluit haar vermoede is dalk verkeerd. “Hy het my in ’n baie spoggerige restaurant gevra om sy meisie te wees; so ek het gedink hy sal seker weer iets fancy doen,” vertel sy. Sy sê Charl is immers baie romanties.

Charl het haar net daar in die middel van die grasperk gelos om eers ’n draai te gaan loop. Terwyl sy geduldig sit en wag het, het musiek saggies begin speel.

“Ek het nooit opgelet dat daar so baie mense in die park is en dat die meeste van hulle wit klere aanhet nie. Toe ek opkyk, het van die meisies begin dans. Skielik het van die meisies vir my ’n blompot vol sonneblomme kom gee.”

Die dansers het vermeerder en elke dan en wan het een van die dansers vir haar iets aangedra – haar gunstelingblomme, proteas, rooi rose en nog sonneblomme. Selfs ’n pakkie snesies. “Ek is ’n baie emosionele mens,” vertel Petroné, wat naderhand begin huil het toe sy besef wat aangaan.

Ná ’n ruk het Charl tussen die dansers verskyn. “Hy het na my toe geloop en my gehelp om op te staan. Toe het hy vir my gesê hy is baie lief vir my en dat hy vandag die belangrikste en beste besluit van sy lewe neem.”

Volgens Petroné was sy oorweldig deur al haar emosies.

Boonop het Charl gereël dat ’n foto- en videograaf die hele geleentheid vasvang. "Hy het baie moeite gedoen. Ek het dit (die kitsskare) nie verwag nie," sê Petroné.

“Ek is ongelooflik opgewonde. Ek dink alles begin nou eers insink.”

Sy sê sy het ná die tyd uitgevind dat Charl twee maande lank beplan het hoe hy haar gaan vra om te trou. Hy het dansers van die El'Shebang-dansateljee in Elarduspark in Pretoria gevra om hom te help en hulle het sowat ses weke lank die dansroetine gerepeteer.

“Ons gaan in April trou,” sê sy opgewonde.

Kyk hoe die videograaf die verrassing vasgevang het: