Sy aanhangers kan egter nie saamstem nie. Nadat Able se voorpote teen sy lyfie afgesit moes word, lyk hy soos ’n T. rex. Nee, hy lyk soos ’n harige pikkewyn soos hy op sy agterpote waggel. Ander verwys liefderik na die kiets as ’n kangaroo-hartjie.

Hoe dit ook al sy, sonder voorpote doen dié miaauer alles wat ander katte doen: jaag speelgoedmuise aan toutjies, sluip op sy sonderlinge manier op en af teen trappies en maak prrr-geluidjies wanneer iemand sy magie krap. Meer as 100 000 begeesterde aanhangers volg Able op sy eie Facebook-blad.

Able het sy voorpote verloor nadat hy in Chiang Mai, Thailand, geskok is deur los elektriese kabels. Hy was maar een jaar oud toe die ongeluk drie jaar gelede gebeur.

Ná ’n harde knal het weldoeners het die kat in die straat opgetel. Weens die hewige elektriese skok was sy stert en pote kwaai gebrand.

Walai Sriboonvorakul (49) en ’n veearts het Able gedokter.

Hy het sommer vanself op sy agterpote begin rondloop nadat die wonde genees het. “Hy kan selfs op hoë mure en lysies spring,” vertel Walai.

Lees ook: Dramatiese wending in driebeen-kankerhond se ‘laaste reis’

Hy en sy 26-jarige seun, Copter, laat Able vryelik buite en in die tuin rondbeweeg, maar as rondloperhonde en -katte hom probeer boelie, sal hy vinnig huis toe hop; daarom hou hulle hom meestal in hul tweeverdiepinghuis.

Able geniet dit die meeste om Copter soggens wakker te maak deur op sy gesig te gaan sit.

“Hy is lid van die familie. Ons speel al die gewone speletjies met hom. Hy word gepamperlang en het ’n goeie lewe,” vertel Copter op die kat se Facebook-blad.

“Hy het sy pote verloor, maar ’n liefdevolle huis gevind.”

Kyk die video hier:

Bronne: swns.com, dailymail.co.uk, thesun.co.uk, lovemeow.com, metro.co.uk, usatoday.com