Die kombinasie van digitale grafika en vernuftige filmtegnieke vir die vervaardiging van Transformers het fliekgangers behoorlik verstom. Dit lyk so oortuigend, so werklik al blyk dit geheel en al onmoontlik te wees.

Dit was, tot nou toe! Letrons, 'n Turkse ingenieursgroep, het fiksie in werklikheid omskep. Hulle het 'n vlamrooi BMW onder hande gehad en die resultate is verstommend.

Dit lyk soos 'n regte volgrootte BMW met daardie spoggerige sierrooster, en dit klink soos 'n regte BMW. Met die naderkom lyk dit beslis na die luukse motor wat op baie mense se wenslysie is.

Maar dan verander die prentjie - en die wenslysie word vinnig aangepas, want ná dit wat hier voor jou oë ontvou, gaan menige bleeksiel die woord Letrons daarop neerskryf.

Die motor kom tot stilstand. En dan begin die pret. Die vreemde tegno-klank laat jou skrik. Dan begin die motor uitmekaarskuif terwyl allerhande blaas- en metaalgeluide gehoor word. En kort voor lank staan die BMW jou wrintiewaar op sy "agterpote". Nes 'n regte Transformer!

Maar wag, kyk die video. Jy gaan dit bes moontlik meer as een keer wil sien . . .