Huisgenoot word van jaar ’n 100 jaar oud en as deel die eeufeesvieringe het ons in samewerking met kykNET Films die romantiese drama Vir Die Voëls vervaardig.

Die eerste amptelike lokprent vir ons opwindende fliek is gisteraand eksklusief op Bravo! bekendgestel. Maar julle kan hier ook daarna kyk:

Vir Die Voëls vertel die liefdesverhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was sy vasoortuig dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag.

Die film speel af in die laat 1970's en volgens Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, gaan dit "die nostalgiese hartsnare roer".

"Dis ’n fliek oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg," sê Henriëtte verder.

[caption id="attachment_131495" align="alignnone" width="622"]xx Vir Die Voëls vertel die ware verhaal van Irma wat in 'n trourok voor die kansel beland. Hier is Simoné Nortmann saam met Neels van Jaarsveld.[/caption]

Maar hoe het dit gebeur dat Huisgenoot besluit het om ’n fliek te maak? "Toe ons twee jaar gelede begin dink het aan maniere om die tydskrif se 100ste verjaarsdag te vier, het ons besluit dit sal lekker wees om ’n romantiese fliek te maak. Daarna is voorgestel ons hou ’n wedstryd waarin ons lesers vra om hul eie, ware liefdesverhale in te stuur."

Irma en Sampie de Klerk van Newcastle se wenverhaal oor hul hobbelrige liefdespad tot by die kansel het as inspirasie vir die draaiboek gedien.

Quentin Krog, die regisseur, kan nie uitgepraat raak oor die "fenomenale span" saam met wie hy gewerk het nie. "Die lekkerste tonele om die regie van te behartig, was die oomblikke tussen Irma en Sampie – dit het deurentyd vir drama, romanse en komedie gesorg."

[caption id="attachment_131496" align="alignnone" width="622"]Francois Jacobs speel Sampie de Klerk, die man wat Irma se voete onder haar uitslaan. Francois Jacobs speel Sampie de Klerk, die man wat Irma se voete onder haar uitslaan.[/caption]

Henriëtte sê Huisgenoot kon kwalik vir ’n beter liefdesverhaal gevra het om as inspirasie vir die eeufeesfliek te dien. "Irma en Sampie is albei geswore Huisgenoot-lesers en het ons die kreatiewe vryheid gegun om hul verhaal te omskep in ’n storie met genoeg kinkels en draaie om ’n lekker draaiboek daarvan te maak."

Buiten Simoné en Francois in die hoofrolle, maak Elize Cawood, Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Bennie Fourie ook almal hul verskyning.

[caption id="attachment_131497" align="alignnone" width="622"]Buiten Simoné en Francois verskyn Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Leandry Smith ook in Vir Die Voëls. Buiten Simoné en Francois verskyn Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Leandry Smith ook in Vir Die Voëls.[/caption]

Vir Die Voëls word op 25 November 2016 uitgereik.