Maar onder aanvoering van die dinamiese Faf du Plessis gaan die Proteas dalk iets regkry wat die Wes-Indiese span in 1984 en in 1992 laas reggekry het – om drie opeenvolgende reekse Doer Onder te wen.

Die Proteas het die Aussies nie net geklop nie; dit was ’n behoorlike afranseling. En die plaaslike media het hulself nie weerhou om dit voor die manne se oë te gooi nie. Nou wil dit voorkom asof daar ’n kinkel in die kabel is deurdat Faf nie net die Aussiespan verkeerd opgevryf het nie, maar dalkies ook die krieketbal . . . Daar word beweer dat hy die hulp van ’n pepermentjie ingeroep het om die magtige Australiese krieketspan te pootjie.

Faf het sy vinger in sy mond gesteek en waarskynlik ’n mengsel van speeksel en peperment gebruik om die Kookaburra-bal blink te vryf.

Net wanneer die video in stadige aksie gespeel word, lyk dit asof daar moontlik moeite gedoen word om die peperment by te kom. Die voorval het in die 54ste beurt plaasgevind – nadat Australië reeds begin inplof het met sy telling op 150 vir 5.

Marcus Trescothick, aanvangskolwer vir Engeland, het in 2008 erken hy het Murray Mints-pepermente gebruik om die bal meer glans te gee in die Ashes-reeks in 2005.

Maar hy het terselfdertyd genoem dié “spoegaanvulling” maak nie juis ’n verskil aan die oppervlak van ’n Kookaburra-krieketbal nie. Dis die einste balle wat in Australië ingespan word.

Meer oor die MCC-wette van krieket

Die Marylebone-krieketklub (MCC) is die wêreld se aktiefste krieketklub. Dit besit Lord’s en is die bewaarder van die krieketreëls.

Die MCC is in 1787 gestig en het in 1814 van die oorspronklike klub na Lord’s verhuis.

Vandag is die MCC die enigste erkende owerheid wat die krieketreëls mag verander of bywerk.

Kragtens Wet 42 van die MCC-kode mag geen kunsmatige stof gebruik word om die bal mee te poleer, oftewel blink te vryf, nie: “Enige veldwerker mag die bal poleer met die veronderstelling dat geen kunsmatige stof gebruik word nie en dat sodanige polering nie tyd verspil nie.”

Aan die ander kant, die reëls verbied nêrens die kou van kougom en lekkers deur spelers op die veld nie.

Meer oor Faf du Plessis op (en van) die veld.

So het hy die Proteas geloof vir hul vertoning tot nou toe.

Bronne: espncricinfo.com, thesouthafrican.com, news.com.au, cricket.com.au, www.lords.org