Harvey en Mildred Wosika van Oklahoma het op 5 Augustus 1966 in die huwelik getree.

Vyftig jaar later het die paartjie hul huweliksherdenking saam met sowat 150 vriende en familie gevier.

Nie alleen was dit vir die twee beskore om die groot mylpaal te vier nie, maar

Harvey (92) het die teenwoordigheid van gees gehad om sy selfoon aan een van sy dogters te gee voor hy tot almal se verbasing op een knie voor sy geliefde Mildred (90) neergesak het.

Toe vang Harvey iets aan wat die gaste nog verder verstom sou laat; die man wat hulle sê net in die kerk sing.

Soos ’n wafferse Romeo van ouds, het hy Mildred se hand in syne geneem en vir haar sy eie spesiale weergawe van Bing Crosby se Let Me Call You Sweetheart gesing.

Hul kleindogter, Lisa Epperly, het aan ABC News gesê almal het die trane weggepink.

Op haar Facebook-blad het Lisa geskryf: “Oupa sing vir ouma . . . hy’s 92 en sy’s 90 . . . 50 jaar saam en steeds verlief . . . natuurlik het dit my laat huil.”

Sy sê haar ouma was die meeste van almal ontroer deur Harvey se gebaar. “Sy het gedink dis die dierbaarste ding en dit het haar hart bly gemaak,” het Lisa gesê.

Harvey en Mildred het mekaar dekades gelede in ’n kafee wat aan Harvey se broer behoort het en waar Mildred gewerk het, ontmoet.