Dit is nog ’n hele paar uur voordat die grootste oomblik dié jaar in Suid-Afrikaanse rugby sal aanbreek, maar hier in Johannesburg staan die motors reeds tou om parkering naby die Ellispark rugbystadion te kry.

[caption id="attachment_133004" align="alignnone" width="600"]Go Lions Go, wys hierdie ondersteuner. Foto: Martin de Kock Go Lions Go, wys hierdie ondersteuner. Foto: Martin de Kock[/caption]

Dit is hier waar die enigste plaaslike span wat dit tot in die half-eindrondes van die 2016-Superrugbyreeks kon maak, vandag sake gaan uitspook teen die magtige Highlanders van Nieu-Seeland wat verlede jaar nog as die kampioene in dié gesogte reeks uit die stryd getree het.

Dié jaar het die Leeus vriend en vyand verras toe hulle met hardlooprugby en aanvallende spel die een na die ander oorwinning op die veld kon behaal. Net ’n week vantevore het hulle nog die Crusaders met 42-25 in die kwarteindstryd verslaan.

[caption id="attachment_133006" align="alignnone" width="600"]Die tuisspan maak kringetjie op die veld voor die afskop. Foto: Martin de Kock Die tuisspan maak kringetjie op die veld voor die afskop. Foto: Martin de Kock[/caption]

Maar drie jaar gelede was dit ’n ander storie toe die Leeus die grap van Suid-Afrikaanse rugby was. In 2013 is hulle selfs uit Superrugby geskop toe hulle in ’n promosie-relegasiewedstryd teen die Southern Kings van die Oos-Kaap vasgeval het. Nou lyk dinge anders en die ondersteuners is vandag lus vir groot rugby.

Selfs die weer speel saam hier in Johannesburg want die bibber koue van die afgelope paar dae het gewyk voor die entoesiastiese skare. Vandag is dit warm, soos wat die harte is van die duisende mense wat teen een uur se kant die terrein buite die stadion vol pak.

[caption id="attachment_133012" align="alignnone" width="600"]Die stadion begin vol loop. Foto: Martin de Kock Die stadion begin vol loop. Foto: Martin de Kock[/caption]

Gou raak die toue al hoe langer voor die kosstalletjies, maar teen R35 vir ’n boereworsrol en R30 vir ’n bier moet daar ook kort voor lank tougestaan word voor die OTM-masjiene op die terrein. Dit pla egter nie die see van rooi ondersteuners nie, want vandag word hier geskiedenis gemaak wanneer die Leeus vir die eerste keer in die geskiedenis in ’n halfeindstryd van die Superreeks speel . . .

Voor die opwinding van die dag kan begin word die kele eers gelawe. In die biertent gaan dit jolig as die een na die ander country- en danstreffer gespeel word. Met ’n skuimtop in die hand dans Charmaine Erasmus en Amanda Tree saam. “Lions for life!” roep Charmaine uit. Dié twee Johannesburgse meisies is met elke wedstryd hier, vertel hulle.

Mense swaai Beeld-plakkate rond met die woord “Br-u-u-l! en ’n skets van ’n leeu daarop. Om die stadion hang die rook van die talle braaivleisvure laag in die lug terwyl daar in groepe gekuier word.

Aan die westekant is ’n groep ondersteuners wat al die pad van Fochville gekom het. Hulle was verlede week ook hier, vertel Kobus Nortjé met ’n braaitang in die hand. “Ons is hel opgewonde!”

[caption id="attachment_133007" align="alignnone" width="598"]Kobus Nortjé en sy seun Dewald, al die pad van Fochville af, braai 'n stukkie wors. Foto: Martin de Kock Kobus Nortjé en sy seun Dewald, al die pad van Fochville af, braai 'n stukkie wors. Foto: Martin de Kock[/caption]

’n Ent verder kuier ses jongmanne van Brits om ’n gasbraaier. Daar staan drie koelsakke agter op Berto Bredenhann se dubbelkajuit Izuzu bakkie. Hier is báie drank, verklaar hy en draai ’n groot stuk wors om voordat hy sy volgende Savanha oop maak. Hulle is eintlik Bloubul-ondersteuners, “maar toe val ons uit”, sê Ruan Briel. “Nou ondersteun ons Suid-Afrikaanse rugby.”

Gou spog die manne dat hulle almal in 2009 saam met die Maanhare se slot, Franco Mostert, vir die Hoërskool Brits se eerstepan uitgedraf het. Kallie Putter sê hy was saam met Franco se vrou, Juan-Ri, in die klas. “Sy was die mooiste meisie in die skool.”

’n Entjie verder druk die 30-jarige Polly Mohube met ’n rooi rubberstempel die Leeus se kenteken op mense se wange. Hiervoor vra die ywerige entrepreneur R10.

Teen kwart voor drie begin die skare na die pawiljoene se kant toe staan, maar buite by die hek drom nog sowat 500 laatkommers saam. As hulle deur die draaihekke beweeg, drafstap hulle met hul kaartjies in die hand na die ingange om die afskop te sien.

[caption id="attachment_133008" align="alignnone" width="600"]Francois Kruger en sy maatjies Jayden, Juandré en John-D Hessen van Vanderbijlpark wys hulle het gees. Foto: Martin de Kock Francois Kruger en sy maatjies Jayden, Juandré en John-D Hessen van Vanderbijlpark wys hulle het gees. Foto: Martin de Kock[/caption]

Dit is ’n see van rooi hempde hier op die stadion. Orals word plakkate rondgeswaai met die woorde “Go Lions Go” daarop.

Louis Swart van Centurion is een van die sowat 40 000 toeskouers wat op hul voete is as die tuisspan sommer al in die 11de minuut die telbord aan die gang kry met ’n drie deur Elton Jantjies.

Ja kyk, sê hy as hy die rooi pruik op sy kop reg skuif, hy dink nie daar is sommer ’n groter Leeu-ondersteuner as hy nie. Sy gesig is ook rooi geverf. Hy vertel hy het ’n foto waar hy as kleuter met ’n blikkie Lion Lager in sy hand staan. “Dit is waar dit alles begin het.”

[caption id="attachment_133009" align="alignnone" width="600"]Die tuisskare verlekker hulself in kookwater rugby. Foto: Martin de Kock Die tuisskare verlekker hulself in kookwater rugby. Foto: Martin de Kock[/caption]

Net soos duisende ander ondersteuners is hy ook tot so onlangs as drie jaar gelede oor sy rooi bloed gespot toe die Leeus op daardie stadium nog van die grond af geëet het.

“Al wat jy gehoop het as jy in daai tyd ’n game gaan kyk, is dat jy darem nie te ver verloor nie,” spot hy.

Natuurlik het sy Blou Bul-vriende hom altyd geterg en gesê ’n Leeu-wedstryd is soos om pornografie te kyk: “Jy weet aan die begin reeds wat aan die einde gaan gebeur!”

[caption id="attachment_133010" align="alignnone" width="600"]Die Leeus se gelukbringer het darem sy kant gebring. Foto: Martin de Kock Die Leeus se gelukbringer het darem sy kant gebring. Foto: Martin de Kock[/caption]

Hmm . . . klink of sy vriende destyds die spyker op die kop geslaan het, maar vandag is dit ’n Leeu van ’n ander kleur wat hier gate in die Highlanders se verdediging hardloop. Sommer gou flikker die telbord 17 vir die rooibontes en 3 vir die manne van Nieu-Seeland.

’n Uur later is daar geen keer aan die vreugde op die pawiljoene toe die Suid-Afrikaners weet hulle het dié wedstryd in die kassie nie.

[caption id="attachment_133011" align="alignnone" width="600"]Polly Mohube verdien geld deur ‘n rooi Leeu-afdruk op mense se wange te stempel. Foto: Martin de Kock Polly Mohube verdien geld deur 'n rooi Leeu-afdruk op mense se wange te stempel. Foto: Martin de Kock[/caption]

As Lourens Erasmus in die 73ste minuut oor duik skree die skare soos een man “brul Lions, brul!”

“O ek wil huis toe gaan, terug mamma toe,” klink Kurt Darren se liedjie effens sarkasties oor die luidsprekers as die Highlanders moedeloos terug stap na die middellyn.

Die manne van Dunedin het egter die laaste sê toe Joe Wheeler die gewese kampioenspan se vierde drie gaan druk net voordat die eindfluitjie blaas, maar dit skeel die Ellisparkers min.

Dit brul hier op die stadion met die eindtelling op 42-30. Die skare jil en juig want vir die eerste keer in die geskiedenis van die Superreeks speel die Leeus in die eindstryd.

Dis mos nou pure Leeu-plesier, som Gerhard Liebenberg van Sasolburg die dag op as hy en sy vriende deur die rolhekke na buite beweeg . . .