Die verdagte in die De Zalze-moordsaak, Henri van Breda, het Vrydag vlugtig in die Kaapse hooggeregshof verskyn om sy voorverhoor te hervat, maar verrigtinge is gou uitgestel tot volgende jaar.

Sy voorverhoor gaan nou op 3 Februarie 2017 hervat word. Die staat het voorlopig gevra dat sy moordverhoor op 13 Maart 2017 begin.

Henri (21) word daarvan aangekla dat hy sy pa, Martin (54), sy ma, Teresa (56), en sy broer, Rudi (22), die aand van 26 Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch met ’n byl of soortgelyke skerp voorwerp doodgekap het.

Tydens Vrydag se verrigtinge het die verdediging verdere besonderhede van die staat versoek sodat hul eie kenners dit kan analiseer.

Die 21-jarige se regsverteenwoordiger, adv. Pieter Botha, het dié versoek bevestig.

Henri, wat in ’n netjiese blou pak by die hof opgedaag het, het kalm gelyk terwyl die media om hom gekloek het. Daar was ook geen teken van die baard waarmee hy ’n tyd gelede afgeneem is nie.

Sy meisie van die afgelope paar maande, Daniellá Janse van Rensburg, was nie saam met hom in die hof nie. Dié twee moet weer 11 April aanstaande jaar in die hof verskyn op aanklagte van dwelmbesit.

Beide is steeds uit op borgtog.

Kyk hier hoe Henri Vrydag in die hof verskyn het: