Die veelbesproke Henri van Breda, die jongste seun van die oorlede Martin en Theresa van Breda wat saam met hul seun, Rudi, in hul huis met 'n byl doodgekap is, verskyn Woensdag weer in die landdroshof in Kaapstad.

Henri, netjies uitgevat in 'n blou pak, het saam met sy meisie, Danielle Janse van Rensburg, vroegoggend by die hof opgedaag waar hul albei op 'n aanklag vir die besit van dwelms verskyn.

Die 21-jarige en sy meisie is sowat 'n maand gelede na bewering met dagga in hul besit betrap. Henri was 'n aand in die selle aangehou en die volgende dag op borgtog van R1000 vrygelaat. Danielle is na enkele ure op borgtog van R200 vrygelaat.

Buiten die dwelmklag teen hom, staan Henri ook tereg op drie aanklagte van moord vir elk van sy gesinslede wat in Januarie verlede jaar in hul huis in die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor is.

Henri se suster, Marli (17), is dieselfde aand met 'n byl aangeval. Sy het die voorval oorleef.

Die moordverhoor hervat weer 18 November wanneer Henri vir nog 'n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad moet verskyn.