Die atlete het sowat halfnege deur die hekke gekom, terwyl skoliere hul skoolkreet geskree het voor Shosoloza uit volle bors gesing is.

Selfone wat met uitgestrekte arms bo-oor die skare gehou is, was baie se manier om dié terugkoms op video te verewig. Dreunsang het uit die skare opgeklink en boodskappe van gelukwensing is op plakkate uitgebasuin. “#Fijoro – All from Soweto love you," was op een geskryf.

Marina De Gouveia (19) van Germiston het saam met haar ma, Fernanda De Gouveia, op die atlete gewag, maar spesifiek op haar kêrel, die roeier Dylan Trollop (19).

Sakhile Mahlangu (23) en Tshepo Msiza (23) van Mpumalanga was onder die juigendes. Hulle het vieruur vanoggend uit Mpumalanga gery om betyds te wees om die atlete op die lughawe in te wag.

Suid-Afrika se span van 40 atlete het 17 medaljes huis toe gebring.

Mbalula is met die sanger Mandoza, wat Sondag ná 'n jaar lange kankerstryd oorlede is, se Nkalakatha op die verhoog verwelkom..

“Long live, long live, we love you, Paralympians,” het Mbalula gesê. Hy het dit as 'n eer en voorreg beskryf om “ons helde” terug te verwelkom.

“Julle word nie ontmagtig deur jul gestremdheid nie. Ons is almal gelyk voor God,” het hy gesê.

“Uit 75 lande is Suid-Afrika 22ste en ons het 17 medaljes (gewen),” het hy gesê voor hy die 15-jarige lemnaeler Ntando Mahlangu uitgesonder het. Mahlangu, wat met hemi-melia (aangebore afwesigheid van die fibula) gebore is, se bene is albei in 2012 geamputeer. Hy het in September 2012 sy eerste stel lemme gekry.

Mahlangu het die atlete se medaljes en tjeks aan hulle oorhandig.

“Bly weg van dwelms. Ons is 'n wennasie en ons is 'n verenigde nasie,” het Mbalula gesê. “God seën Suid-Afrika. Baie dankie almal! Saluut,” het hy afgesluit.