’n Sjimpansee-mamma is opgemerk waar sy gereedskap gebruik in ’n klaarblyklike poging om haar “seun” se liggaam skoon te maak. Dit laat wetenskaplikes nou vermoed dat daar ook diere is wat lykversorgingspraktyke het.

Noel, ’n sjimpanseewyfie by die Chimfunshi Wildlife Orphanage Trust in Zambië, het ’n jonger mannetjie, Thomas, sedert sy ma se dood vier jaar gelede versorg.

Ná Thomas se dood het sy hom vir sowat 20 minute versorg en selfs sy tande met ’n stukkie gras skoongemaak.

Sy het dit bly doen ten spyte daarvan dat sy kos aangebied is om haar en ’n paar ander sjmpansees wat ook die liggaam omring het, weg te lok.

Volgens die Independent het navorsers in die joernaal Scientific Reports gesê dat sjimpansees dalk nie aan die oorlede se liggaam dink as ’n lewelose voorwerp nie, maar as ’n “sosiale wese”.

Navorsers sê ook die sjimpansees het dalk by die liggaam gebly om meer te leer oor die dood, en ook geskryf dit is “dalk aangevuur deur ’n nuuskierigheid oor die unieke omstandighede”.

Thomas is glo weens ’n kombinasie van ’n virale en bakteriële longinfeksie dood.

Bronne: The Sunday Times, The Telegraph, Independent, AOL.com