Die video se titel sê nie verniet “Moenie ’n oog knip” nie, want gedoriewaar – jy dink nog jy sien die motor, dan’s als verby! Mitch D. Forbush van Ixonia, Pewaukee in die Amerikaanse deelstaat Winsconsin, is onlangs deur die polisie as die man agter die stuur aangewys. Hy het op 26 Augustus groot skade aan minstens ses voorwerpe, sy motor en natuurlik homself aangerig toe hy beheer oor sy motor verloor het. Spoed was waarskynlik die sleutelfaktor. Mitch het glo tussen 113 en 161 km per uur met sy Ford Taurus in ’n 40 km per uur-sone gejaag. Twee geboue, ’n heining, die gemeenskapsaal se naambord, ’n ligpaal en ’n boom is in die proses getref. Wrakstukke van die motor het glo sowat 30 m wyd besaai gelê. Die motor self het in die middel geknak en het soos ’n gedraaide koeksister gelyk.

Ten spyte daarvan dat hy sy sitplekgordel aangehad het, is Mitch gedeeltelik uit die motor geslinger en hy het glo erge beserings opgedoen.

Bronne: lakecountrynow.com, mycommunityNOW.com