’n Ontstellende kringtelevisie-video wys hoe Annelene Pillay op 29 November haar werkplek verlaat, waarna die skieter skielik na vore kom en op haar begin losbrand. Die 31-jarige man wat glo sy 26-jarige meisie vyf keer in die kop buite haar werkplek in Rossburgh in Durban geskiet het, bly in aanhouding en is van haar moord aangekla.

WAARSKUWING: HIERDIE VIDEO KAN SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL

Sy is op die toneel dood verklaar.

Een van Annelene se vriende het aan IOL.com gesê Annelene se kêrel het haar gereeld gedreig, bekruip en gesê hy gaan haar doodmaak.

“Hy het ’n gesplete persoonlikheid gehad. Hy wou altyd die laaste woord inkry. Hy het enige man wat met haar gepraat het, gedreig, selfs haar nabye vriende.

“Sy was bang om hom te los,” het die vriend bygevoeg.

Haar kêrel is op 30 November vasgetrek nadat hy van die moordtoneel gevlug het. “Die motief vir die moord is in hierdie stadium onbekend,” het die Rossburgh-polisie se woordvoerder, Priya Nunkumar, gesê. Sy het aan Huisgenoot bevestig die verdagte se aansoek om borgtog is nie toegestaan nie en hy sal in aanhouding bly. “Ons sal doelgerig werk om te sorg dat geregtigheid geskied vir die slagoffer se familie,” het sy bygevoeg. Vier jaar gelede het Annelene hierdie foto op haar Twitter-profiel gedeel met die woorde: "Leef ten volle".

Bykomende bron: policepicsandclips.com, Facebook

#16Dae: Organisasies wat kan help

1. FAMSA (landwyd): Bel 011 975 7101, e-pos national@famsa.org.za of gaan na www.famsa.org.za vir inligting en hulp.

2. Lifeline (24-uur): 0861 322 322.

3. POWA (People Opposing Women Abuse):083 765 1235 of gaan na www.powa.co.za vir meer inligting en hulp.

4.Legal Aid South Africa: 0861 053 425 of besoek www.legal-aid.co.za vir bystand

5. Rape Crisis: 011 642 4345/ 021 447 9762.

6. SA Polisie-noodnommer: 10111