Die Peter Pan-lid van die The Grand Tour-trio, het op 10 Junie vanjaar ter nouer aan die dood ontkom toe die super elektriese motor, die Concept One, waarmee hy gejaag het, getol het.

Die motor het aan die brand geslaan en is in geheel ’n wrak. Terloops, die motor is ongeveer R13 miljoen werd en is die eerste elektriese supermotor in die wêreld.

’n Jillende Richard, oftewel die “Hamster” soos hy onder sy aanhangers bekend staan, kon Saterdag egter nie sy opgewondenheid in toom hou toe hy agter die stuur van ’n kragtige Ford Mustang ingeskuif het nie.

“Dit voel beter as die eerste keer toe ek 17 was en die sleutel tot vryheid gekry het, want dié keer is ek gereed daarvoor.

Hy het in die videogreep ook sy diepste dank teenoor die dokters wat hom behandel het, uitgespreek.

“Ek moes eintlik nie eers die oomblik gedeel het nie, dit voel té persoonlik nou. Ek bedoel, ek is aangetrek, maar ek voel asof ek nie is nie.”

Die Mustang is boonop stukke beter en vinniger as die ‘spesiale’ rolstoel wat vriende vir hom gereed gehad het na sy ontslag uit die hospitaal.

Hy het natuurlik gestand gedoen aan die oorspronklike Top Gear-span se vermoëns om elke ding wat beweeg op ’n eiesoortige kreatiewe manier te herskep.

Richard en Mindy

In ’n onlangse onderhoud met ITV se Morning Show het die Richard en sy vrou, Mindy, meer vertel van wat daardie aaklige dag gebeur het.

Ek het die hele tyd geweet ek is in die lug, en geweet hoe langer ek in die lug sou wees, hoe harder die landing sou wees.


Die ongeluk het plaasgevind toe hy op die kruin van die heuwel om ’n draai gegaan het. Toe loop sake liederlik skeef. Richard was egter gelukkig om uit die motor te kom voordat dit in vlamme uitgebars het.

“Ek het die hele tyd geweet ek is in die lug, en geweet hoe langer ek in die lug sou wees, hoe harder die landing sou wees.

“Ek spandeer waarskynlik meer kere onderstebo in ’n motor as die gemiddelde mens.

“Ek onthou dat ek gedink het ‘ek wil regtig nou iewers anders wees’.

“Ek het op die grond gelê en in my kop oor die goed gegaan wat ek die dag saam met die span gedoen het. Ek het net ’n ‘stelsel-kontrole’ gedoen om seker te maak ek is okei.

Mindy, sy vrou, sê sy het ’n nare voorgevoel die dag voor die ongeluk. Op die dag van die ongeluk het sy hom gebel, iets wat sy gewoonlik nie doen nie.

Hy het vir haar gesê hy’t nog ’n paar dinge om te doen. En toe kry sy daardie bloedstollende oproep.

Mindy sê “jy moet net heeltyd iets bly doen om daardeur (die skok) te kom” en vertel hoe sy na daardie oproep vir hul 16-jarige dogter gesê het hulle moet skoene gaan koop.

Hammond het 7mm in hoogte in sy linkerbeen verloor “en ek kan dit nie juis bekostig nie”. Hy verwys na sy Swiss Army-knie wat met metaalplate geheg is.

Hy kan nie vir die volgende 18 maande dit waag om weer op ’n drafstappie te gaan nie.

Hy sê die dokters se verbod op sy passie vir draf is om soos vir ’n normale mens te sê om nie ’n vurk in hul oog te druk nie.

“Ek hou van hardloop, dit hou my kop skoon. As dinge gespanne raak tuis, gooi my vrou my én my tekkies by die deur uit.”

Binne ’n paar maande mag hy wel weer iets met wiele te doen hê - fietswiele . . .

Vorige ernstige Hamster-ongelukke

Hy en die The Grand Tour-span was besig om in Maart vanjaar  ’n afgeleë gebied in Mosambiek te verfilm toe hy van sy motorfiets val en sy kop stamp.

Elf jaar gelede het hy ernstige breinbeserings opgedoen. Hy het teen 463 km/h in ’n Vampire Jet gejaag toe die regtervoorwiel bars en die voertuig rol.