Volgens die Kaapse stadsraad het ’n jong bultrugwalvis Sondag by Sandy Bay uitgespoel en is die strand vir tyd en wyl gesluit.

Besoekers word gevra om weg te bly tot die walvis verwyder word. Die departement van omgewingsake het besluit die beste uitweg is om die dier, wat sowat 10 m lank is, van kant te maak.

“Sodra die proses afgehandel is sal die karkas na Houtbaai se hawe geneem word, vanwaar dit na ’n ashoop by Vissershok vervoer sal word.

“Die publiek word aangemoedig om Sandy Bay asook die hawe te vermy todat die proses afgehandel is, wat vermoedelik eers laat Sondagaand sal wees,” het die stadsraad gesê.

  • Vroeër vanjaar het ’n dwergpotvis weer op die swemstrand by Witsand gestrand, waarna ’n walviskenner ook genadedood as die beste uitweg beskou het.