Net soos met sy motorfietsongeluk vroeë vanjaar, het die "Hamster" gou gewys sy sin vir humor het nie 'n enkele duikie weg nie. Maar wag, kyk self!

Richard Hammond (47), die Peter Pan-lid van die The Grand Tour-trio, het Saterdag in die Switserse Alpe ter nouer dood ontkom toe die super elektriese motor, die Concept One, waarmee hy gejaag het, getol het. Die motor het aan die brand geslaan en is in geheel ’n wrak.

’n Geskokte James May en Jeremy het kort na die ongeluk op die toneel afgekom. Hulle het vir die ergste gevrees. Maar Richard was gelukkig. Hy het sover bekend ’n knie gebreek.

’n Woordvoerder van The Grand Tour het gesê Richard was by sy positiewe en het gesels. Hy het op eie houtjie uit die wrak geklim kort voordat dit in vlamme gehul is.

Dit was egter nie Richard se eerste noue ontkoming nie. Hy en die The Grand Tour-span was besig om in Maart vanjaar  ’n afgeleë gebied in Mosambiek te verfilm toe hy van sy motorfiets val en sy kop stamp.

Volgens The Sun was hy bewusteloos, maar het bygekom nadat hy deur mediese personeel op die filmstel behandel is.

Richard het elf jaar gelede ernstige breinbeserings opgedoen toe hy in ’n byna noodlottige ongeluk betrokke was tydens die verfilming van Top Gear. Hy het teen 463 km/h in ’n Vampire Jet gejaag toe die regtervoorwiel bars en die voertuig rol.

Meer oor die Concept One

Die Concept One kan tot byna 355 km per uur behaal danksy ’n kragtige 1 224 perdekrag enjin. Wel, eintlik vier enjins want elke wiel word deur ’n onafhanklike enjin aangedryf.

Die motor word in Zagbreb, Kroasië vervaardig. Die motor is ongeveer R13 miljoen werd. Dit is die eerste elektriese supermotor in die wêreld.