Nou word teen moontlike weerwraak en geweld gemaan.

Luidens berigte het die bakleiery Woensdagoggend op die perseel van ’n afslaer in die noordelike voorstede begin, van waar sake drasties versleg het. ’n Sakeman en sy makkers het die sekuriteitsbedryf by ’n bekende deel in die stadskern kort voor middernag vir hulself toegeëien.

Die groep wat die oorname bewerkstellig het, is na bewering betrokke by ’n berugte gevangene in Johannesburg.

Sommige van die Wes-Kaap se omstrede sakemanne wat onder andere Mark Lifman en André Naudé insluit, het glo bevestig hulle was teenwoordig toe die kabaal in ’n woongebied uitbreek.

Nafiz Modack is glo die middelpunt van die wrywing. Hy is na bewering voorheen verbind aan ’n beweerde slenter waarby luukse motors betrokke was. Volgens sy LinkedIn-profiel werk hy by Protection Services International.

Hy sou via e-pos soos volg op navrae deur News24 reageer: “I did warn them u wana take wats mine il take wats yours 2nyt an I dun just that, im no gangster im a businessman and only fear god no one else (sic).”

Die spanning het glo Woensdagoggend begin oplaai toe een van Nafiz se eiendomme in Richwood, ’n voorstad van Kaapstad, onder die hamer kom. Die verkoop van die eiendom was na bewering deel van ’n vrywillige bankrotskap-proses.

Volgens ’n bron moes die veiling nie voortgaan nie omdat daar reeds ’n koper vir die eiendom was. Die veiling het egter voortgegaan.

Nafiz sou glo na die eiendom gaan om sake op te klaar, maar met sy aankoms was Mark ook daar. Dit het spanning tussen die twee veroorsaak.

Later is nog een van Nafiz se eiendomme verkoop, dié keer in Parow. Dit was glo hier waar die vonke behoorlik begin spat het.

Na bewering het Nafiz probeer om dié by die veiling te dreig en te intimideer. Hy ontken dit volgens die e-pos wat deur sy LinkedIn-profiel aan News24 gestuur is.

Daarin word beweer sowat 50 mense, waaronder Mark en André, was teenwoordig. Nafiz was glo op pad om op sy eie na die afslaer te gaan om die saak uit te klaar toe ’n geveg in die straat uitbreek. Hy het glo daarna die perseel verlaat.

Onder die groep van 50 mense was glo ’n beweerde bendelid, volgens gerugte die broer van ’n moontlike bendeleier. Volgens Nafiz wou ’n lyfwag glo die beweerde bendelid ’n oorveeg gee toe dié ’n vuurwapen uitpluk.

Chaos het gevolg. Volgens Nafiz het “al sy manne uit selfverdediging” en die beweerde bendelid se manne mekaar getakel. Verskeie vuurwapens en messe is ingespan. Lyfwagte wat glo vir Mark gewerk het, het bloeiend van die toneel gevlug.

Ná die onderonsie by Parow het ’n groep glo besluit om die nagklub-sekuriteitsbedryf hulle s’n te maak. Hulle het na die gebied in die sakekern gegaan en probeer om hul weg in te dwing.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig daar was ’n voorval buite ’n ontkleeklub. Die probleem is glo opgelos. Volgens bronne is die bestaande sekuriteitspersoneel by die klub afgedank waarna hulle deur die maatskappy aangestel is wat die oorspronklike maatskappy waarvoor hulle gewerk het, teenstaan.

Bronne waarsku weerwraak word verwag.

Bron: news24.com