Danksy Angela Lance (44) van die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië is daar een kaaiman in die wêreld wat alte deftig met haar eie kroon kan spog . . .

Trouens, Angela is so gek oor LillyGator, haar troetel-kaaiman, dat dié kalant van kop tot toon tot in die afgrond bederf word.

LillyGator het haar eie tutu’s, tiaras, sonbrille en selfs ’n paar spesiale uitrustings. Angela glo ook dat LillyGater glad nie omgee om klere aan te trek nie. Nes enige meisie van haar ouderdom, kan sy natuurlik ’n bietjie kwasterig raak wanneer sy nie lus het om ’n nuwe uitrusting te dra nie. Dié opstandigheid is darem gewoonlik van korte duur.

Maar wag, dis nie al nie. LillyGator word gereeld bederf met manikuur- en masseersessies.

Dit lyk asof die vierjarige alles baie geniet – en sy lyk heel ontspanne in haar mensema se arms terwyl haar toonnaels in vrolike kleure geverf word.

Mondhigiëne en tandesorg is natuurlik ook belangrik en Angela is ook byderhand om daardie (vlymskerp) tande skitterwit te borsel.

Dis egter nie net popspeel en luilekker in die waterkom rondplas nie. Die twee gaan ook gereeld vir ’n uitstappie en dan kry die kaaiman ’n halsband om haar nek.

LillyGator kan glo tot sowat 13 m lank word as ’n volwassene – ’n aansienlike verskil van die klein dingetjie wat Angela in Augustus 2012 gekoop het toe die kaaiman kwalik ouer as twee dae was.

Dis te verstane dat die bure dalk nie so opgewonde oor die vooruitsig van ’n uitgegroeide tiener sal wees nie. Maar Angela se pa is gek oor sy “grand gator” en vra gereeld dat sy vir hom foto’s moet stuur.

Soos dit enige byderwetse jong dame betaam, is dit dus te verstane dat LillyGator ook haar eie Instagram-rekening het. Hier’s ’n paar van haar oulike oomblikke van babadae tot nou.

My LillyGator

A post shared by Angela (@aprincess1972) on

Looks like LillyGator is ready to go out.... LOL

A post shared by Angela (@aprincess1972) on

#lillygator getting a #manicure for the #party

A post shared by Angela (@aprincess1972) on

For @shayleenw #gatorlove #lillygator #sweet

A post shared by Angela (@aprincess1972) on

Sewe kaaiman-kitsfeite

1. ’n Kaaiman is ’n waterbewonende, akkedisvormige reptiel wat in Suid- en Sentraal-Amerika voorkom en verwant is aan die Noord-Amerikaanse alligator.

2. Kaaimans is nie so aggressief en gevaarlik soos hul verlangse familielid die krokodil nie. Die grootste soort word tot sowat 4 m lank.

3. Kaaimanne spog met 74 tot 80 tande op ’n keer en kan tot 2 000 keer tande wissel.

4. Volwasse kaaimanne kan die skaal tot anderkant 453 kg laat kreun.

5. Vroulike kaaimanne se moedersinstink is baie sterk. Hulle kan hul kroos tot vir ’n jaar na geboorte bly beskerm.

6. Terwyl hulle dalk nie so sag op die oog is nie, is kaaimanne baie slim. Hulle balanseer stokkies n takke op hul kop om voëls op soek na nesbou-materiaal nader te lok. En dan natuurlik te verorber.

7. Alhoewel die spesie eintlik karnivore is, sal hulle nie nee sê vir vrugte nie.

Bronne: dailymail.co.uk, travel.aol.co.uk, instagram.com, wired.com, WAT