Feesgangers is die josie in vir ’n rits bekendes nadat die glansmense ’n peperduur fees in die Bahama-eilande bemark het, maar die fees ’n totale mislukking was.

Bekendes soos die Victoria's Secret-model Bella Hadid sowel as Kendall Jenner, Emily Ratajkowski en Hailey Baldwin het die musiekfees op hul sosialemedia-blaaie bemark en mense het glo tot $12 000 (sowat R160 000) opgedok per kaartjie, asook oor die miljoen rand stuk vir sekere luukse pakkette.
Toe feesgangers egter op die privaat eiland opdaag, is hulle begroet deur eenvoudige tente soos dié waarin vlugtelinge normaalweg bly, swak organisasie, honde wat glo rondhardloop en kunstenaars wat nie opdaag nie.

Die organiseerders het ’n verklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle onvoorbereid was, nie die infrastrukteer in plek gehad het nie en dat die wind hul planne deurmekaargekrap het. Die feesgangers sal almal ten volle vergoed word, het die organiseerders bygevoeg, en die fees is onbepaald afgestel.
Bella Hadid het ook ’n verklaring uitgereik waarin sy om verskoning vra dat sy die fees bemark het sonder om vas te stel of die geleentheid behoorlik gereël word.