Daar waar sy langs haar tradisionele Krugerrand-rok vir ’n foto poseer is die glinster in haar oog tasbaar en ’n mens kan duidelik sien waarom die beeldskone vrou met die goue hare die titel as Mej. Wêreld verower het.

Met die Krugerrand se 50ste bestaansjaar het Anneline besluit om die Krugerrand-rok aan die Prins en Prins-diamante se juweliersmuseum te skenk. Die pragrok wat tans by die museum in Loopstraat, Kaapstad uitgestal word, is voorwaar iets besonders.

Anneline (62) vertel die rok was haar tradisionele drag omdat dit die goud van Suid-Afrika verteenwoordig het.

“As ek na die rok kyk, neem dit my dadelik terug na die aand van die kompetisie in Londen. Besonders. Ons het toestemming gekry van die destydse minister om die presiese ontwerp van die Krugerrand te gebruik. Dit was absoluut fantasties,” vertel Anneline.

Op die vraag oor hoe sy die rok sedert 1974 in so ’n puik toestand gehou het, antwoord sy eerlik.

“Dit was altyd in ’n plastieksak in my kas. Dis ’n pragtige rok. Dis vir my ook ongelooflik dat dit steeds so pragtig lyk.”

Die geskatte waarde van die rok is ongeveer R4 miljoen.

Anneline vertel hoe die Mej. Wêreld-titel haar lewe soos handomkeer verander het.

“Voor ek die titel gewen het, het ek met ’n kêrel uitgegaan wat teologie gestudeer het. As ek nou so daaraan dink, sou ek seker Mevrou Dominee gewees het!”

Anneline, wat tans op Mauritius woon, sê sy geniet elke oomblik van haar aftrede.

Toegang tot die Prins en Prins-diamante se juweliersmuseum is gratis en dit is oop vir die publiek. As jy nog altyd ’n kiekie van die goue rok wou neem – hier is jou kans!