Die mooi donkerkop aan die sy van Steve Hofmeyr se oudste seun is die grafiese ontwerper Michelle Pistorius (24).

Sonder jou voel n dag soos n jaar.. @michelle_pistorius ?? #sonsak

A post shared by armand hofmeyr (@armandhofmeyr) on

Steve en sy vrou, Janine, het Maandagoggend hul eersteling, Romy-Lee, verwelkom. Die kleinding is die gewilde sanger se sesde kind.

Don't believe you get used to this. Ever.

A post shared by Steve Hofmeyr (@steve.hofmeyr) on

“Geluk aan Janine en my pa, Steve Hofmeyr, met Romy-Lee se geboorte,” het Armand op sy Facebook-blad geskryf. “Ek kan nie wag om haar te ontmoet nie!” 

Hy het ook laat hoor hy is tot oor sy ore verlief. 

Yay, ek is verlief soos nog nooit tevore nie. Sy is pragtig. Haar naam is Michelle en ons gaan binnekort Romy-Lee babysit . . .”

Armand vertel hy en Michelle ken mekaar al ses jaar. Albei was egter in dié tyd by iemand anders betrokke.

Nadat hul onderskeie verhoudings op die rotse geloop het, het hulle vanjaar ál nader, nader en nader aan mekaar gegroei. 

“Ons het nie daarna gesoek nie; dit het spontaan gebeur. Ons het nou so 'n maand se proeflopie gevat en seker gemaak ons hou regtig van mekaar en seker gemaak ons is nie net saam omdat ons mekaar al ses jaar ken nie.”

Die gevoelens is eg, verseker hy!  “Ons hou baie van mekaar! Sy is pragtig, nè?” sê hy droomverlore.

Armand herstel tans van ’n keelinfeksie en het nog nie sy babasussie ontmoet nie. “Ek kan nie wag nie,” sê die oudste broer van vier susters en drie broers.

Hy reis die afgelope agt jaar die land vol as sanger en sy vierde album, Vir Afrikaans, word eersdaags uitgereik. Hy het die volgende paar dae onder meer vertonings op Upington en in Namibië.

Vir Afrikaans is sy eerste album sedert 2014. “Ek het al die liedjies self geskryf.”

Hy het vir inspirasie veral teruggedink aan sy grootwordjare op ’n plaas by Alldays in Limpopo. “Elke liedjie is geskryf om te werk vir ’n album, op optredes en op radio. Ek het nie sommer net geskryf om te skryf nie. Ek het noot vir noot seker gemaak alles werk en veral op die lirieke gefokus.”