’n Brand het Saterdagmiddag omstreeks 12:20 by die Hoërskool Silwerstroom in Sonderendstraat, Manenberg, uitgebreek.

[caption id="attachment_173916" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Matriekleerders wat ekstra lesse ontvang het, was in die klaskamers toe die brand ontstaan het.

Volgens een van dié leerders ly sy steeds aan skok ná die voorval.

“Alles het so vinnig gebeur. Toe ons by die venster uitkyk, sien ons net walms rook. Almal het paniekbevange begin raak en wou net uit by die skool. Ons almal het dit reggekry om ongedeerd uit die skool uit te kom. Ek is siek van die rook wat ek ingeasem het," vertel sy aan Huisgenoot.com.

[caption id="attachment_173968" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Liezl Moodie, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, sê sowat 20 brandbestryders het na die toneel gegaan.

“Ongeveer ses brandweervoertuie en 20 bestryders is na die toneel om die brand te bestry. Drie klaskamers is deur die brand verwoes. Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie," sê Moodie.

Volgens Moodie is die oorsaak van die brand nog onbekend.

[caption id="attachment_173919" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Jessica Shelver, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê die Stad se brand-en-reddingsdienste ondersoek die voorval.

“Daar is glo aansienlike skade aan die gebou en drie klaskamers is beskadig. Ons wag vir ’n verslag van die Stad om die volle omvang van die skade te bepaal.”

Shelver sê ook beamptes van die WKOD oorweeg verskillende opsies om leerders tegemoet te kom.

“Safe Schools het noodsekerheidsbeamptes by die skool ontplooi," sê sy verder.